Hoe gemaak as jou ma so baie rondtrek dat jy nie op jou skoolwerk kan konsentreer om ’n goeie matriekslaagsyfer te kry nie? Dan bly jy eenvoudig agter wanneer sy weer besluit om die lang pad te vat.

Dit is presies wat die 18-jarige Andria Rossell, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Vrede in die Vrystaat, gedoen het. Maar sy moes al harde bene kou om ’n inkomste te verdien om haar woonstelhuur te betaal en kos op haar bord te kry.

Dis dié dat sy sommer in trane uitgebars het toe ’n weldoener ’n week gelede hulp kom aanbied . . . Andria vertel haar ma, Heidi, “like van oppak en trek”, maar sy hou van standvastigheid. “Ons het letterlik elke jaar op ’n ander plek gebly. In my gr. 8-jaar het ons selfs vier keer getrek!”

In 2013 het hulle na Vrede verhuis, maar ’n jaar later het Heidi ’n pos by Shoprite U-Save in Kaapstad aanvaar. Dit is toe dat Andria besluit genoeg is nou genoeg, sy bly agter. “Matriek het voor gelê en dit is baie ontwrigtend om kort-kort van voor af in ’n ander skool te begin,” vertel sy.

“Ek hou van Vrede; dit is lekker hier en ek het goeie vriende hier. Toe besluit ek ek bly net hier.”

Dit was ook daardie Desember 2014 dat sy haar ma die laaste keer gesien het. Haar pa het sy laas in 2012 op Moorreesburg gesien. Skielik moes die tienermeisie vir haarself sorg.

Haar pensioentrekkende ouma Cheryll kon darem elke maand met R200 help en haar ma dra ook by wanneer sy kan, maar dit was nie genoeg nie. Om haar woonstelhuur van R550 te betaal moes Andria ná skool by ’n restaurant as kelnerin werk.

“Maar dit was rof! Behalwe vir Maandae het ek elke dag van 17:00 tot laat in die aand gewerk. In ’n stadium kon ek net nie meer by alles uitkom nie,” vertel sy.

Sy wil immers matriek met vlieënde vaandels slaag om volgende jaar ’n onderwysbeurs te kan kry. Vanjaar het sy reeds ’n akademiese gemiddeld van 74 persent behaal, asook onderskeidings in besigheidstudies en geografie. ’n Onderskeiding in wiskunde het sy net-net misgeloop, “want daar was net nie genoeg tyd om te werk en hard te leer nie”, sê sy.

Maar verlede week is haar gebede verhoor toe ’n weldoener onverwags aanbied om haar woonstelhuur tot aan die einde van die jaar te betaal. “Ek het in trane uitgebars toe ek dit hoor,” vertel sy. “Ek kon dit nie glo nie!” Nou het Andria haar kelnerinvoorskoot opgehang sodat sy net op haar studie kan konsentreer. Sy verkoop wel nog parfuum vir sakgeld. In ’n goeie maand verdien sy sowat R150 hiermee.

Nou hoop sy net dat haar drome van volgende jaar ’n onderwysstudent wees ook sal waar word, sê sy. En om genoeg geld te spaar sodat sy aan die einde van die jaar vir haar ma kan gaan kuier.