Die brand het reeds Vrydag op Wittedrift begin en is Maandag onder beheer gebring, maar droë, winderige toestande het dit gister (Dinsdag) kort ná middernag opnuut laat opvlam. Omstreeks tweeuur die oggend was dit weer buite beheer.

Luidens berigte het die vlammemuur aanvanklik oor sowat 1 000 ha gestrek. Gisteraand het die vlamme drie huise in die omgewing van Wittedrift verswelg en sowat 15 000 ha is binne 10 uur vernietig.
Laataand het die brand nog voortgewoed weens die onvoorspelbaarheid daarvan met voortdurende verandering van rigting.

’n Woordvoerder van die plaaslike owerheid, Chantal Edwards-Klose, het aangedui dat die brand wel omstreeks 20 oor een Woensdagoggend onder beheer gebring is. Die Nasionale Seereddingsinstituut het intussen ’n skipper terug land toe gebring nadat hy uitgevind het sy huis is aan die brand.

Rhian Berning en Stuart Palmer was een van die ongelukkiges wie se huis in puin gelê is.
In die sosiale media het mense hul dank betuig aan almal wat van groot hulp was tydens die brand.

Bronne: heraldlive.co.za, knysnaplettherald.com, timeslive.co.za