Toe haar toekomstige man haar enkele dae voor hul troue los, het Quinn Duane (27) besluit haar luukse onthaal, wat haar familie sowat ’n halfmiljoen rand uit die sak gejaag het, gaan beslis nie vermors word nie.

Quinn se ma, Kari, het met die blink pan na vore gekom om die hawelose mense in haar tuisdorp Sacramento in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië, uit te nooi om te kom deel in die fees.

“Toe ek uitvind dat die troue nie meer gaan plaasvind nie, het dit net natuurlik gevoel dat hierdie iets is waardeur ons kon teruggee (aan die gemeenskap),” het Kari gesê. Baie van die gaste by die buitensporige feesmaal was van ’n plaaslike nagskuiling. In gevalle het die hele familie, insluitend die grootouers, ouers en kinders – tot baba’s – opgedaag.

Die kos was van ’n plaaslike vierster-hotel afkomstig en het salm, steak sowel as versnaperinge ingesluit.

Rashad Abdullah, wat die geleentheid saam met sy vrou en vyf kinders bygewoon het, vertel die maaltyd was ’n seëning.

“As jy deur moeilike tye gaan en sukkel, is dit ’n seëning om uit te gaan en iets anders saam met jou familie te doen,” het hy bygevoeg.

Die kos was van ’n plaaslike vierster-hotel afkomstig en het salm, steak sowel as versnaperinge ingesluit.

Quinn het egter nie haar eie onthaal bygewoon nie. Sy was besig om alles gereed te kry om op haar wittebrood na Belize te vertrek.

Sy het dié reis saam haar ma aangepak en die twee het glo “hope pret” gehad.

Hoewel Quinn volhou sy is heel rustig na haar toekomstige bruidegom, Landon Borup, haar gelos het, rep sy geen woord oor wat tussen hulle skeefgeloop het nie.

Sy word wel wyd geprys vir haar onbaatsugtige gebaar om nie die kos van haar eens blye dag te vermors nie.

Bronne: Daily Mail; Buzzfeed