Angelina Jolie wil vroue help om trots te wees op hul liggaam, veral ná groot operasies.

Die aktrise het in 2013 besluit om ’n dubbele mastektomie te ondergaan toe sy uitvind haar kans om borskanker te ontwikkel is 78 persent as gevolg van die defektiewe BRCA1-geen.

Sy wys ’n bietjie lyf in haar nuwe rolprent, By the Sea, en hoop dit sal ander in haar posisie help om van hul voorkoms te hou. “Ek wou nie wegkruip nie en ek wou aan vroue wys hierdie operasies beteken nie die einde van die wêreld nie,” het sy aan die Duitse tydskrif TV Movie verduidelik.

"Jy kan steeds soos ’n vrou voel."

“Jy kan steeds borste hê. Dit voel dalk nou effens anders as voorheen, maar jy kan steeds soos ’n vrou voel. Ons moenie skaam voel nie.”

Angelina het nie die verfilming van By the Sea maklik gevind nie. Sy was soms bekommerd omdat sy soveel lyf voor die kamera wys en moes haarself keer om nie sommige tonele uit te sny nie.

“Daar was hope tonele wat ek wou verander of uitsny,” het sy aan die New York Times gesê. “Ek het besef dit gaan ek wees wat (naak) in daardie bad is. Maar ek het vir myself gesê: ‘Skuif dit alles opsy. Jy kan nie hierdie toneel verander of uitsny omdat jy ’n mastektomie gehad het of omdat ons getroud is en mense dit of dat gaan ontleed nie. Dit sou ’n kullery wees.’ ”

Haar man, Brad Pitt, was gelukkig heeltyd aan haar sy. Hy is ook in die rolprent. Hy was glo haar rots.

“Ek het deur die operasies geweet hy is aan my sy en dit was nie iets waaroor ek minder vroulik sou voel nie, want my man sou nie toelaat dat dit gebeur nie,” het Angelina onlangs aan die Amerikaanse uitsaaier Tom Brokaw verduidelik.

© Cover Media