“Dit gaan die warmste jaar wees sedert die mensdom temperature begin aanteken het,” het dr. Francois Engelbrecht van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad Donderdag aan News24 gesê.

Volgens hom kan byvoorbeeld net ’n groot vulkaniese uitbarsting soos Krakatoa s’n aardverwarming op hierdie skaal keer.

Dié vulkaniese uitbarsting in 1883 word beskou as die hardste geluid wat al in die moderne geskiedenis gehoor is. Volgens oorlewering kon die geluid byna 5 000 km ver gehoor word.

Hy het ook gesê die aswolk van ’n uitbarsting van daardie omvang sal swaweldioksied bevat en dit sal van die sonlig terugkaats in die ruimte.

“Maar dit is slegs ’n voorbeeld van hoe warm dit vanjaar is.”

Volgens hom word hierdie wêreldwye styging in temperatuur veroorsaak deur aardverwarming en die El Niño-verskynsel.

El Niño kom voor wanneer die Stille Oseaan warmer word as gewoonlik en dit lei dikwels tot ongewone weerstoestande.

“Die Stille Oseaan word elke twee tot sewe jaar warm. Dit is tans besig om te gebeur en die seetemperatuur is hoër as normaal,” het Engelbrecht gesê.

Daar word verwag dat dit tot in Desember sal vererger, wanneer dit op sy ergste sal wees.

Die aarde se rekord verhoog gewoonlik met 0,01 persent. Vanjaar gaan dit na verwagting tot bo 0,1 persent styg.

“Dit is 10 keer hoër as die normale.”

Volgens hom was die temperatuur vanjaar oor die hele Suid-Afrika bo normaal.

Die eerste nege maande van die jaar was die warmste wat al op die Hoëveld aangeteken is. Die vlakke was in ander dele van die land bo normaal.

“Dit gaan ’n warm somer in Suid-Afrika wees. Dit is ook ’n seisoen wanneer die reënval laer is as gewoonlik,” het Engelbrecht verduidelik.

“Ons beleef tans reeds ’n droogtetoestand; in gedeeltes van die Wes-Kaap, Mpumalanga en Limpopo, Noordwes en die Vrystaat heers daar reeds ’n knellende droogte.”

Hy het ook gesê daar het minder reën as gewoonlik gedurende die laaste twee somerreënseisoene geval en nog ’n seisoen met laer as normale reënval gaan beslis die situasie vererger.

Engelbrecht meen een van die belangrike dinge wat ons in gedagte moet hou, is die uitwerking op ons landboubedryf.

“SA boere is gewoond aan ’n hoë mate van klimaatsverandering. Dit is nie die eerste keer dat hulle met El Niño te doen kry nie en hulle moet sekere besluite neem.”

Sy raad aan boere is om konserwatiewer te wees met die plant van saad sodat, as daar ’n probleem ontstaan met die laer as gewone reënval, hul finansiële verliese kleiner sal wees.

Simon Gear, weerkundige, het aan News24 gesê gereelde donderstorms behoort aan die orde van die dag te wees, maar daar was verlede week net een en daar is niks in die vooruitsig nie.

“In Gauteng staan die damme op ongeveer 55 persent, terwyl hulle verlede jaar ongeveer 88 persent vol was,” het hy opgemerk.

“Daar word ’n lang, droë somer voorspel.”

Volgens hom is vanjaar moontlik die warmste jaar wat al aangeteken is, maar “ons sal maar moet kyk wat gebeur”.

As mense ophou om hul tuin en grasperke nat te lei, sal dit die waterverbruik met ongeveer die helfte verminder.

As die situasie vererger, kan “kwaai” waterbeperkings ingestel word.

Hy het ook gesê die toestand word deur sameloop van omstandighede, onder meer El Niño en aardverwarming, veroorsaak.

Bron: News24