Polisiebeamptes van die Randburg-polisiekantoor in Johannesburg waarsku mense om op die uitkyk te wees na ’n nuwe slenter wat boewe gebruik om mense te beroof, berig die Northcliff Melville Times.

Kapt. Makgowanyana Maja, polisiewoordvoerder, sê ’n veiligheidswag het met ’n rolletjie “vervalste” kontant by die polisiekantoor opgedaag.

Volgens Makgowanyana los die skelms die kontant op die vloer en wanneer iemand dit optel, dring die skelm daarop aan om ook ’n gedeelte van die kontant te kry. Maar wanneer die geld dan verdeel moet word, word die persoon wat die geld opgetel het, beroof.

Die rolletjie geld bestaan uit ’n rolletjie papier met ’n geldnoot buiteom, wat dit laat lyk asof dit ’n dik rol geldnote is. “Dis ’n ou slenter wat nou weer kop uitsteek,” sê Makgowanyana aan Huisgenoot.

“Dit is nie net op een plek spesifiek nie; die skelms beweeg gewoonlik rond. Ons het dit sowat twee weke gelede vir die eerste keer weer opgemerk; daarom wil ons mense waarsku,” sê hy.