Met die klik van ’n knoppie kan enige storie op die internet deesdae blitsvinnig wêreldwyd versprei word. Dink byvoorbeeld aan die onlangse "nuus" dat die openbare beskermer, Thuli Madonsela, in 'n sluipmoordaanval dood is of dat die sokkerspeler Mark Fish aan 'n hartkwaal omgekom het.

rekenaar

Hierdie is maar net 'n paar onlangse voorbeelde van stories wat wyd aanlyn gedeel is, maar totale bogstories was. So voor jy daardie knoppie druk om die nuus in die sosiale media met jou vriende te deel – maak eers doodseker die nuusbrokkie kom van ’n betroubare nuusbron.

Suid-Afrika het die afgelope jaar ’n skerp toename ervaar in sogenaamde nuuswebtuistes wat onakkurate en valse nuus publiseer. Hierdie “nuus”-webtuistes versprei enigiets van suiwer propaganda en politieke vrees by kiesers tot sensasionele, snaakse of bloot skinderstories.

Nog onlangse voorbeelde van valse nuus wat vinnig en wyd versprei het, is dat die DA gratis Wi-Fi aan alle inwoners in die Nelson Mandela-metro gaan verskaf en Julius Malema wat glo die EFF die rug toegekeer het en nou ’n DA-lid is.

Maandag het nog so ’n valse storie die ronde gedoen oor aartsbiskop-emeritus Desmond Tutu se afsterwe en valse bewerings oor oudpres. Thabo Mbeki het verder vlam gevat op sosiale media.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het hierdie soort webtuistes in ’n verklaring ten sterkste veroordeel.

“Onakkurate nuus van webtuistes wat hulle voordoen as betroubare nuusbronne kan die partye wat daarby betrokke is groot skade berokken," lui die verklaring.

“Baie van hierdie valse webtuistes gebruik ook doelbewus betroubare nuusbronne se logo’s om hul lesers ’n rat voor die oë te draai en om hulself voor te doen as ’n betroubare nuusverskaffer.”

Dit is onverantwoordelik en skadelik om hierdie nuus verder te versprei in die sosiale media; Suid Afrikaners moet seker maak hulle deel net nuus wat van betroubare mediahuise kom, sê Sanef.

Dit het al dikwels gebeur dat mense webtuistes stig spesifiek met die doel om hul eie politieke oortuigings te versprei, sê prof. Lizette Rabe, hoof van die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartment.

Sy sê mense moet hulle afvra of hulle die webtuiste vertrou al dan nie.

“Nes mense nie na ’n dokter sal gaan as hulle weet hy of sy is nie ’n geregistreerde geneeskundige nie, moet Suid-Afrikaners ten volle bewus wees van wie en wat hul nuusbronne op die internet is,” meen Lizette.

Sy sê mense moet seker maak die nuusbron is geloofwaardig, anders moet hulle die inhoud bloot aanvaar as iemand se siening.

Wees op die uitkyk na hierdie webtuistes wat onlangs valse nuusberigte gepubliseer het:

  • t1meslive.co.za. Dié webtuiste het onder meer berig Marc Fish en Desmond Tutu is oorlede.
  • citysun.co.za word daarvan beskuldig dat hulle heelwat ANC-propaganda voortbring.
  • africannewsupdates.com beskou hulle as ’n webtuiste vir satiriese nuus. Dié webtuiste het die valse nuus versprei dat 80 000 stembriewe wat vooraf vir die ANC gemerk is, tydens die verkiesing gevind is.

Ekstra bronne: News24