Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens gaan die Wes-Kaap eerste deurloop wanneer die front Saterdagaand inkom. Kapenaars sal tog verlig wees om te hoor dat reën reeds Saterdagmiddag behoort te begin val in die suidweste van hul provinsie. Teen Sondagoggend word swaar reën voorspel en die Weerdiens waarsku teen moontlike oorstroming in die Kaapse metropool, Wynland asook die Overberg. 

Teen Sondagmiddag behoort reën ook te begin uitsak oor die Oos- en -Noord-Kaap. 

Dit sal ook aansienlik kouer wees landwyd, veral in die Wes- en Noord-Kaap, waar temperature in sommige dele bedags onder 10° C kan daal.

Vanweë die dalende temperature kan sneeu ook in die bergagtige dele van die Oos en- Wes-Kaap verwag word. Dit kan daartoe lei dat heelwat bergpasse in dié provinsies die naweek gesluit sal wees. 

Sterk winde word ook landwyd vir Sondag voorspel. Spesifiek tussen Kaap St. Francis en Oos-Londen word ’n stormsterk suidwestewind van sowat 70 km/h voorspel. 

Voorts word gewaarsku teen deinings van 4 m en hoër tussen die Kaap en Port Elizabeth vanaf Saterdagaand. Dit sal Sondagoggend na Oos-Londen versprei en teen Maandagmiddag Kosibaai raak. Diegene wat beplan om die see te besoek, moet kennis neem van onstuimige toestande, met golwe van 6 tot 9 m wat tussen Kaappunt en Oos-Londen sal heers.

Teen Maandag kan mense in die binneland ’n paar baie koue oggende verwag namate die front inwaarts beweeg. Inwoners van KwaZulu-Natal kan in dié tyd ’n bietjie reënval aan die kus verwag. 

  • Die Weerdiens waarsku intussen teen ’n WhatsApp-boodskap wat die ronde doen. Die boodskap waarsku dat die komende front “twee keer so sterk” soos die vorige een (in Junie) sal wees. Volgens die Weerdiens is dit onwaar en moet die boodskap geïgnoreer word.

So het Kaapstad gelyk met die vorige koue front: