So lyk dit nou by Inhambane, Mosambiek.

Vroeër vandag

Dié video is laatmiddag gedeel - Dineo maak duidelik reeds haar stem dik!
Windspoed in die oog van die storm is vroeër vandag bereken op sowat 120 km/h. Maar daarmee saam kom rukwinde wat die naald verby 160 km/h gaan druk.
Nog is dit het einde niet. Na verwagting gaan dit van tropiese sikloon na “intense tropiese sikloon” (kategorie 4) verander sodra dit Mosambiek bereik.
Dit behels dat die windspoed in die oog tot 160 km/h kan bereik en die rukwinde ’n verwoestende 200 km/h en meer kan haal. Gepaardgaande swaar reënneerslae word ook verwag. So lyk ’n kategorie 4-sikloon in aksie
  Die Verenigde Nasies se Kinderfonds in Mosambiek het laat Woensdagmiddag gewaarsku Dineo hou ’n groot gevaar vir mense in. Grootskaalse vernietiging van huise en gewasse word nie uitgesluit nie.

Nooddienste in Mosambiek het reeds gebiede geïdentifiseer wat dalk onder Dineo kan deurloop. Dit sluit Zavala, Inharrime, Morrumbene, Homoíne, Panda, Maxixe, Massinga, Vilankule en Inhambane in. [caption id="attachment_159245" align="aligncenter" width="600"]In Maart 2010 het dié MH-53M Pave Low IV-helikopter van die Amerikaanse magte deel gevorm van 'n reddingspoging toe vloede Mosambiek getref het.  In Maart 2010 het dié MH-53M Pave Low IV-helikopter van die Amerikaanse magte deel gevorm van 'n reddingspoging na die tropiese storm Eline Mosambiek getref het. [/caption] Inwoners word aangeraai om na veiliger gebiede te beweeg. Terselfdertyd word hulle versoek om deurlopend waaksaam te wees, waarskuwings te gehoorsaam en die owerhede se aanwysings nougeset na te volg. Donderdag sal Dineo na verwagting na die binneland en suidelike deel van Mosambiek beweeg.

In KwaZulu-Natal sal Kosibaai, Jozine, Hluhluwe en die Hluhluwe-Imfolozi-park ook deel van Dineo se toorn ervaar. Daar word gewaarsku teen rowwe seetoestande.

Sterk rukwinde en swaar reën word voorspel vir gedeeltes van Limpopo en Mpumalanga.

Teen Vrydag behoort Gauteng ook ’n deel van Dineo se angel te voel in die vorm van sterk winde.

Wat moet jy doen wanneer ’n sikloon op pad is?

1. Waar moontlik, gebruik ’n transistorradio wat met batterye werk om deurlopend na nuusbrokkies en waarskuwings te kan luister.

2. Skakel die elektriese toevoer af, maak voorsiening vir alternatiewe ligbronne en vermy tydens storms kontak met metaal.

3. Versterk waar moontlik huise se dakke en beskerm vensters en glasdeure met planke of metaalplate.

4. Maak seker kwesbare mense (kinders, siekes en oumense) is veilig.

5. Wees spaarsaam met kos en water. In gebiede waar siklone algemener voorkom, word aanbeveel dat jy noodvoorraad (’n draagbare radio, flitslig en ekstra batterye) byderhand het.

6. Maak ook seker jy het waterhouers, droë of blikkieskos en natuurlik: ’n blikoopmaker.

7. Sorg dat jy vuurhoutjies, maskeerband (om vensters dig te maak) en ’n noodhulpsakkie/-tassie by daardie noodvoorraad gereed het.

8. Sorg dat daar ’n kontaklys en ’n lys van noodnommers in jou huis en by die noodvoorraad gehou word.

9. Verwyder enige los items wat deur sterk wind rondgewaai kan word en skade kan veroorsaak.

10. Maak seker jy weet waar die naaste hoogliggende gebiede is, asook wat die veiligste roete daarheen is in die geval van vloede.

11. As jy bure het, doen die moeite om seker te maak hulle is ook paraat.

12. Wanneer die ontruimingsbevel gegee word, word aanbeveel dat jy stewige skoene (nie plakkies nie) en die regte beskermende klere aantrek.

13. Sluit jou deure en skakel alle kragtoevoer af, insluitend gas.

14. As daar kinders by jou is: Maak voorsiening vir boeke en speletjies om hulle besig te hou ingeval julle in ’n skuiling opeindig.

15. Moenie jou waaksaamheid verslap nadat die sikloon verby is nie. Wees op die uitkyk vir beskadigde kragkabels, brûe en bome. Moenie dit waag om vloedwater binne te gaan nie.

Bronne: enca.com, ecr.co.za, clubofmozambique.com, jcu.edu.au