Die munisipale raad het in ’n verklaring gesê dat die Suid-Afrikaanse Weerdiens die stad aangeraai het om gereed te maak vir rampspoedige gevolge wanneer swaar reën en sterk winde vanaf Woensdag in die stad gaan woed.

Die kouefront gaan die Wes-Kaap en die Noord-Kaap na verwagting Woensdag en Donderdag tref.

“Die publiek kan swaar reën wat vloede tot gevolg het en stormsterk winde, sneeu en rowwe see-toestande verwag,” lui die verklaring.

Sowat 50 mm reën word binne ’n tydperk van 24 uur verwag en die meeste reën gaan oor die bergagtige gebiede in die weste van die Wes-Kaap val.

Hoogliggende gebiede in die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap en suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap kan sneeu verwag. Die sneeu gaan al Woensdagnag begin maar die meeste sneeu gaan Donderdag val.

Volgens die verklaring sal die personeellede gereed wees om bome wat omwaai, te verwyder. Hulle sal ook op die uitkyk wees vir kitsvloede en bedag wees op kragonderbrekings wat kan gebeur as gevolg van die storms in die stad.

Die stad gaan ook nood-skuilings gereed maak om verligting te bring as mense se blyplekke deur die koufront geaffekteer word, het Alderman JP Smith, burgermeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid.

Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens gaan die week se kouefront die Kaap wel al teen Dinsdagaand tref, so trek jou komberse en pantoffels nader.

Wenke om oorstromings by jou huis te keer:

  • Maak seker die uitlaatpype om jou huis is nie verstop nie.
  • Kyk ook dat daar nie vuilgoed in die stormwatergeute rondom jou huis is nie.
  • Kyk of daar dooie of verbrane bome rondom jou huis is, wat moontlik kan omval.
  • Pak sandsakke op plekke waar versterking nodig is.
  • As jy in ’n informele nedersetting woon, probeer om jou huis se vloer te lig sodat die hoër is as die grondoppervlak rondom jou.
  • Gaan solank jou versekeringsmaatskappy se beleid oor vloed- en modderskade na.
  • Wees vir die volgende paar dae bedag op die weerdiens se waarskuwings.
  • Rapporteer alle noodgevalle na die kommunikasiesentrum. Bel 021 480 7700 vanaf juou selfoon of 107 vanaf jou landlyn.