Die slagoffer, wat verkies om naamloos te bly, vertel die man het hom as haar huiswerker se broer voorgedoen en gevra sy moet met R3 000 help om die wrak van die toneel te verwyder.

“Hy het net so gelate en moeg geklink. Daar was op daardie oomblik by my geen twyfel dat hy nie die waarheid praat nie,” het Janet Conradie (65)* van Lyttelton Dinsdag aan Huisgenoot vertel.

Die voorval het voorverlede Saterdagoggend kort voor sewe die oggend gebeur.

“Die man het gesê hy is ene Simon, ons huiswerker, Maria Tohlang (50)*, se broer. Nou, ek weet Maria het ’n broer Simon. Boonop het hy ons op ons huis se landlyn gebel.” Die man het vertel Maria en nog twee vroue was na Marble Hall in Mpumalanga onderweg toe die motor omslaan. Hy het gesê al drie die vroue is op slag dood.

“Ek was net so verskriklik geskok. Maria werk al 10 jaar vir my en my man. Sy is amper soos ’n kind vir ons.”

Die man het eers gevra sy moet die geld elektronies in ’n FNB-rekening inbetaal, maar sy het gesê sy is nie goed met internettransaksies nie. Dit is toe dat hy voorstel sy stuur dit met Shoprite se kontantdiens, waarmee geld by ’n toonbank in die winkel aan iemand gestuur word. ’n Mens stuur dan ’n kode na die ontvanger se selfoon wat die geld by enige ander Shoprite in die land kan trek.

“Ek het gesê Shoprite maak wel eers negeuur oop, toe sê hy, nee, hulle maak al seweuur oop. En toe ek daar kom, was hulle so wragtig al oop,” vertel Janet.

Hy het haar, nadat hulle die geld oorbetaal het, selfs van sy selfoon gebel om hulle te bedank en belowe hulle sal die geld terugbetaal sodra Maria se begrafnispolis uitbetaal. Hy het genoem sy selfoon se battery is ná ’n lang nag op die toneel amper pap.

Maar nie lank daarna nie het Janet het uitgevind sy was die slagoffer van ’n ou slenter.

“Ek het my buurvrou later gaan vertel wat gebeur het, toe klink Maria se stem skielik agter my op. Ek het haar net gegryp en op haar skouer gehuil; ek was so verlig toe ek haar sien en besef dat sy leef! Ek sal weer die geld verloor net om haar terug te hê, maar ek kan nie glo ek was so stupid nie. Hoekom het ek nie haar selfoon gebel nie? Ek het aangeneem haar foon is nou by haar broer.”

Janet vertel haar huiswerker is net so ontsteld oor die voorval. Sy het besluit om die saak verder te voer, maar die polisie wou haar eers nie help nie omdat sy nie geweet het wat die adres is van die Shoprite waar die geld getrek is nie. Sy kon dit wel by Shoprite in Lyttelton op hul stelsel uitvind en selfs die naam en van van die vrou wat die geld onttrek het.

“Die polisie sê egter vir my daardie mense vat sommer enigiemand van die straat af om die geld vir hulle te trek en vergoed hulle dan daarvoor. Ek weet ek gaan waarskynlik nooit die geld terugkry nie, maar ek dink dit is nodig om ander te waarsku . . . ”

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van Lyttelton-polisiekantoor, kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar het die voorval aan die gemeenskapskoerant Centurion Rekord bevestig.

Hy het gemaan dit is die beste om wanneer so iets gebeur, eers self te probeer om die  werknemer se naasbestaandes te kontak om die voorval te bevestig. Dit is dus wys om altyd kontakbesonderhede van werknemers se naastes op rekord te hou.

*Skuilname