Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Saterdag ’n waarskuwing uitgereik dat swaar reën met ’n sterk moontlikheid op oorstromings oor die naweek chaos in groot dele van Gauteng kan veroorsaak.

Swaar reën sak reeds heeldag uit oor wydverspreide areas in Gauteng en volgens die weerkantoor lyk die vooruitsig vir Sondag nog grootliks dieselfde.

Daar sal Sondag ’n 80%-kans op reën in Gauteng, insluitende Johannesburg en Pretoria wees terwyl die areas rondom Vereeniging ’n 60%-kans op reën het.

Talle weerstasies het reeds swaar buie die afgelope 24 uur aangemeld. Berigte is ook ontvang dat die Apiesrivier in Pretoria sy walle oorstroom.

Vloedwaarskuwings is ook uitgereik vir dele van Noordwes, die noordoostelike dele van die Vrystaat, die Hoëveld en die binneland van KwaZulu-Natal.

Die suidwestelike deel van Limpopo staan ook ’n beduidende kans om onder oorstromings deur te loop. Terwyl die gietende reën in Gauteng uitsak lyk die res van die land betreklik droog met ’n verwagte temperatuur van 23 grade Sondag in Kaapstad. Kitsvloede het vroeër vandeesweek groot skade in Heidelberg aangerig. Die Sabierivier in die Nasionale Krugerwildtuin is ook tans in vloed.