Wanneer jy mense oor kanker hoor praat, aanvaar jy gewoonlik hulle praat oor volwassenes. Maar kinders kry ook kanker, en soos die Nasionale Dag vir Kankeroorlewendes op 2 Junie gevier is, is ’n veldtog om mense bewus te maak van die tekens van kinderkanker van stapel gestuur. Ons praat met Mandie Erasmus van die Little Fighters Cancer Trust.

Wat is die doel van die bewusmakingsveldtog?

Mandie verduidelik dat die dag vir kankeroorlewendes ’n baken van hoop is vir dié wat nog die siekte beveg, maar is ook die wegspringplek vir die bewusmakingsveldtog. Die organisasie gaan meer as 100 landelike klinieke en hospitale besoek wat nie gewoonweg die nodige fondse vir openbare opvoeding het nie.

“Kanker onder volwassenes ontvang baie meer publisiteit en ondersteuning,” sê Mandie. “Die Little Fighters Cancer Trust werk onvermoeid om bewustheid oor kinderkanker te verhoog – nie net in September nie (wat Internasionale Kinderkanker-bewustheidsmaand is), maar elke dan van die jaar.”

Wat gebeur in Suid-Afrika?

Volgens die Suid-Afrikaanse Gewasregister word minder as ’n derde van gevalle van kinderkanker gediagnoseer; tussen 600 en 700 gevalle jaarliks. En ongelukkig word kanker se stygingskoers teen 2020 as 70% bepaal.

“Die ernstige probleem is misdiagnose; daarom fokus die veldtog op die opvoeding van die publiek sowel as dié in die mediese beroep,” sê Mandie. “Byna die helfte van alle diagnoses word in die latere stadiums van die siekte gemaak; dit beïnvloed die opsies vir behandeling, die beskikbare tyd vir behandeling, hoe aggressief die behandeling is en ook die fisieke en emosionele trauma wat die kind ervaar.”

Wat is die uitdagings verbonde aan die behandeling van kanker by kinders?

“Die hoofstruikelblok is dat die meerderheid van befondsing vir navorsing aan kanker by volwassenes toegewys word,” sê Mandie. “Dit het ’n groot uitwerking op die ontwikkeling van behandelings vir kinders deur farmaseutiese maatskappye. Daar is byvoorbeeld sekere behandelings wat net in Amerika beskikbaar is, en die meeste ouers kan dit eenvoudig nie bekostig nie.”

Leukemie is die algemeenste vorm van kinderkanker, en baie kinders het beenmurgoorplantings of -produkte nodig as hulle nie op behandeling reageer nie. Maar in Suid-Afrika is daar slegs ’n een uit 100 000-kans om ’n skenker te vind; daar is tans ook net 66 000 geregistreerde beenmurgskenkers in Suid-Afrika. Baie skenkers word oorsee gevind, maar weereens kan die meeste ouers dit nie bekostig nie.

Waarop moet ouers bedag wees?

  • Aanhoudende, onverklaarbare gewigsverlies.
  • Hoofpyn, dikwels met braking soggens.
  • Pyn in die skelet, gewrigte, rug of bene.
  • Onverklaarbare knoppe of groeisels.
  • Oormatige bloeding, kneusing of uitslae.
  • Aanhoudende infeksies.
  • ’n Wit kleur agter die pupille.
  • Naarheid of braking.
  • Gedurige moegheid of opmerklike bleekheid.
  • Skielike veranderinge in die oë of sig.
  • Herhalende of hardnekkige koors.

’n Helpende hand:

  • Leer meer oor die 12 soorte kinderkankers en die Little Fighters Cancer Trust by hul webtuiste. Anders kan jy hulle by lfct@littlefighters.org.za e-pos of by 021-863-0249 bel.
  • Organisasies wat hulp vir verleen, kan Mandie Erasmus bel by 073-729-6155 of e-pos by mandie@littlefighters.org.za.
  • Besoek die Sunflower Fund se webtuiste  vir nog inligting oor kinderkanker en hoe om ’n beenmurgskenker te wees.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.