weerligseun-main-1

Francois Clarence van die HTS Witbank sou die middag ’n hokkiewedstryd teen ’n Potchefstroomse skool gespeel het, maar dit is afgelas weens gure weer. Hy het glo saam met sy spanmaats van die hokkieveld afgestap toe hy getref word.

Hy het inmekaargesak en nooddienswerkers is ontbied. Hulle het mond-tot-mondasemhaling op hom toegepas en hy is na die Life Cosmos-hospitaal gebring, waar hy later oorlede is.

Die skool het op hul Facebook-blad geskryf: “Ons opregte dank en waardering aan elkeen wat Francois Clarence in gebed opgedra het. Mag God die Clarence-familie in hierdie moeilike tyd toevou en deurdra. HTS Witbank se hart is oneindig seer. Francois, ons gaan jou en jou 'old-school' opvoeding en menswees mis.”

Kitsfeite oor weerlig:

  • Weerlig tref die aarde gemiddeld ’n honderd keer per sekonde.
  • 15:00 is die gevaarlikste tyd van die dag, vyf keer gevaarliker as 09:00.
  • Mans word 84 persent van die tyd getref en vroue 16 persent.
  • Die getal donderstorms wat op enige tydstip voorkom, is 2 000.
  • Elke dag tref 8 miljoen weerligstrale die aarde.
  • Die kans om deur weerlig getref te word, is een uit 700 000.

Bronne: Liveline.co.za; Witbanknews.co.za