Veral die Wes-Kaap gaan gebuk gaan onder die weer, met voorspellings van stormreën, lae temperature, moontlike sneeu op die berge en sterk wind. Volgens eNuus moet Kapenaars hulle ook vandag op 'n "swart suidooster" voorberei waar die wind meer as 60km/uur sal wees.

Die swaar reën kan veroorsaak dat riviere oorstroom, veral in laagliggende gebiede van die Overberg en Suid-Kaap berig Netwerk24.

Sterk winde en baie rowwe seetoestande word Maandag langs die westelike en suidwestelike kuslyn verwag en dit sal Dinsdag na die suidkus versprei.

Volgens Netwerk24 sal die slegte weer teen Woensdag suidooswaarts koers kies na die Oos-Kaap wanneer ’n gesamentlike kouefront na die noordoostelike dele van die land versprei, met gepaardgaande verspreide reënbuie en donderstorms. Gautengers behoort glo van Donderdag af die eerste winterkoue van die jaar voel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel dat maksimumtemperature van Woensdag af in Pretoria en Johannesburg tot onderskeidelik 21°C en 19°C daal. Donderdag word ’n maksimumtemperatuur van 17°C in die Jakarandastad en 14°C in Johannesburg verwag. Die minimumtemperatuur sal 6°C in Pretoria en 5°C in Johannesburg wees.

Bronne: eNuus, Netwerk24