Die soektog na die vermiste vlug is vanoggend afgelas weens swak weerstoestande

Ná die 17 dag lange gewag om bevestiging te kry dat die Boeing 777 in die suidelike Indiese Oseaan neergestort het, haas soekers hulle om die vlugopnemers op te spoor voor dié masjiene se sein wegsterf.

Regtens moet die opnemers vir minstens 30 dae ná ’n neerstorting sulke seine uitstuur. Kenners meen die seine kan nog net sowat 15 dae aanhou, afhangend van die krag van die opnemers se battery tydens die ongeluk.

Sonder die vlugopnemers, wat stem- en dataopnames tydens ’n vlug maak, het ondersoekers amper geen kans om die oorsaak van die vlugramp te bepaal nie.

Noudat daar moontlik wrakstukke opgespoor is, lê die volgende voor:

NAALD IN ’N HOOIMIED

Meer as twee weke nadat dit neergestort het, is die ligging van die vliegtuig steeds onbekend. Tog sê die Maleisiese owerheid ’n Britse satelliet-maatskappy het sy laaste posisie in die Indiese Oseaan vasgestel, waar verskeie lande ook wrakstukke opgespoor het. Kenners van seestrome en weerpatrone moet nou die soekers hul beste raming gee van waar die vliegtuig eintlik neergestort het. Dit is dus waar die vlugopnemers moontlik opgespoor gaan word.

“Ons moet ’n gelukkie kry,” het John Goglia gesê, ’n voormalige lid van Amerika se National Transportation Safety Board. “Dis ’n wedloop teen die tyd om by die gebied uit te kom terwyl die vlugopnemers se sein nog werk.”

Soekers gaan ’n hoëtegnologie-luisterapparaat gebruik wat hulle by die Amerikaanse vloot leen.

SUPER-SENSITIEWE ORE

Een van die vloot se sogenaamde Towed Pinger Locators is reeds op pad na die gebied.

Dis ’n silindriese mikrofoon van 76 cm wat stadig in ’n roosterpatroon onderwater gesleep word agter ’n kommersiële skip aan. Dit kan enige vlugopnemer se sein op ’n afstand van sowat 1,6 km hoor, maar kan ’n sein tot 3,2 km ver opspoor na gelang van onder meer seetoestande, topografie en of die opnemer begrawe is.

Die toestel word geheg aan ’n kabel van 6 km en word deur die diepsee gelei deur ’n geel, driehoekige draer met ’n vin bo-op. Dit lyk soos ’n pylstert en die vin is ’n meter breed.

Dié toestel stuur elke halfsekonde data met die kabel langs na bo; rekenaars en operateurs op die skip luister dan noukeurig vir enige sterk seine. Die skip sleep aanhoudend die toestel oor die gebied sodat die operateurs die sterkste seine kan bepaal, en hopelik ook die presiese ligging van die vlugopnemers.

Buiten die Towed Pinger Locator gaan ’n Australiese vlootondersteuningskip, die Ocean Shield, ook na verwagting binne drie of vier dae die soekgebied bereik. Dit is toegerus met akoestiese-opsporingstoerusting wat ook na seine gaan soek.

AS DIE SEINE NIE GEKRY WORD NIE

As daar geen sterk seine opgespoor word voor die vlugopnemers se battery doodgaan nie, moet die soekers sonartegnologie gebruik wat klanke na die diepsee stuur en die eggo daarvan ontleed om die seebodem te karteer. Kenners soek dan afwykings of enige vorm wat nie in die gebied tuishoort nie.

Dié sonartoestel kan agter ’n skip aan gesleep word of gebruik word in onbemande mini-duikbote wat sowat 20 uur per keer op die seebodem kan beweeg en die gebied deursoek.

Dit is hoe soekers die wrak van vlug 447 van Air France opgespoor het, wat in 2009 in die Atlantiese Oseaan tussen Suid-Amerika se noordooskus en Afrika se weskus neergestort het. Onderwatersoekvoertuie het die seebodem deursoek en data teruggestuur na kenners op skepe.

Die sonar het eindelik bewyse van moontlike wrakstukke opgespoor. Nog ’n soekvoertuig met ’n spesiale hoëresolusiekamera is gestuur sodat wetenskaplikes die gebied kon ondersoek.

In dié het geval het dit meer as R44 miljoen, vier omslagtige soektogte en amper twee jaar geverg om die vliegtuig en vlugopnemers op te spoor.

Bron: Sapa-AP