harry-cressida

Gaan prins Harry van Brittanje sy meisie, Cressida Bonas, dié Kerstyd vra om te trou?

Die 29-jarige koninklike is wedders se gunsteling om oor die feestyd die jawoord te vra. Met ’n wedsyfer van 2/1 loop hy voor die I’m a Celebrity . . . Get Me Out of Here!-ster Joey Essex.

Nicola McGready, Coral Bookmakers se woordvoerder, sê: “Dit lyk of Cressida vanjaar ’n baie spesiale Kersgeskenk sal kry, want wedders wed verwoed dat prins Harry die groot vraag gaan vra.”

Cressida (24) het onlangs gissings van ’n huweliksaanbod veroorsaak toe sy haar plan laat vaar het om ’n beroepsdanseres te word omdat dit as onvanpas vir ’n moontlike koninklike beskou word.

Die blondine het intussen ’n pos by ’n regsfirma in Londen aanvaar en sien daarna uit om saam met haar rooikopkêrel nes te skop.

’n Bron het voorheen gesê: “Cressida werk vir eers as ’n persoonlike assistent in ’n kantoor in die West End.

“Sy wil niks doen wat prins Harry in die verleentheid kan stel nie. Ek dink sy het ongemaklik gevoel oor foto’s van haar wat dans wat vroeër vanjaar die ronde gedoen het.”