TOE sy medespelers in die Engelse sokkerspan in seksskandale beland het, het Wayne Rooney nie doekies omgedraai nie.

“Ons is rolmodelle, of ons nou daarvan hou of nie,” het hy so ewe laat hoor toe John Terry enAshley Cole in die dinges getrap het. “Ons moet probeer om daarvan bewus te wees...”

Wyse woorde, maar Wayne het toe blykbaar sy eie raad vergeet. Die 24-jarige Wayne is nou self met sy broek om die enkels betrap nadat hy ’n prostituut ruim vir haar dienste betaal het. Die jongste seksskandaal volg ses jaar nadat Manchester United se doelskieter as verloofde man by ’n 48-jarige prostituut genaam Auld Slapper geslaap het.

Dié slag het hy voor Juicy Jeni geswig, soos die prostituut Jennifer Thompson (21) haarself op die sosiale netwerk-webtuiste MySpace noem. Sy het pas onthul hy het verlede jaar binne vier maande sewe keer by haar geslaap. Vir elke ontmoeting in ’n vyfsterhotel het Wayne haar £1 200 (R13 000) betaal. Sy sê hy het haar selfs na sy herehuis in Cheshire genooi terwyl vroulief Coleen – wat toe swanger was – nie daar was nie, maar sy het geweier.

“Wayne het my met SMS’e bestook en met rolle note betaal,” het Juicy Jen vir ’n Britse koerant vertel. “Dit het nie gelyk of hy omgee dat hy Coleen verkul nie.”

Die stewige sokkerspeler het in ’n stadium saam met haar en nog ’n prostituut in die bed geklim, het sy verder onthul

“Hy was skaam en ongemaklik en het vir ons gesê hy was nog nie voorheen saam met twee meisies tussen die lakens nie. Hy wou nie ’n lesbiese daad hê nie; hy wou net hê ons moet hom albei plesier gee. Maar dit was veels te vinnig verby.” Die seks, sê sy, was “vervelig en alles dieselfde”.

Coleen (24) is glo verpletter deur haar man se ontrouheid. Sy en hul seun, Kai, bly nou by haar ouers in Merseyside, Liverpool.

Sy was glo in ’n haarkappersalon om haar hare vir ’n familie-doopplegtigheid te laat doen toe Wayne haar per SMS laat weet het dat die storie op die lappe gaan kom.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 16 September 2010