Waar gaan soek jy na die beste wynmaker ter wêreld – een wat onlangs vir die tweede keer met hierdie titel bekroon is?

[caption id="attachment_113807" align="alignnone" width="600"]Foto: Misha Jordaan Foto: Misha Jordaan[/caption]

Onder in `n ou kelder, omring deur wynbottels met spinnerakke toegespin, tref jy Abrie Beeslaar op die Kanonkop-wynplaas buite Stellenbosch aan. Op 28 November is dié 41-jarige boorling van Worcester uit 20 finaliste by die Internasionale Wyn- en Spiritualieëkompetisie (IWSK) in die historiese Guildhall in Londen aangewys as die Internasionale Wynmaker van die Jaar.

Met sowat 5 500 produkte uit 50 lande wat vir die kompetisie ingeskryf was, was die mededinging straf. Abrie het ook die trofee vir die beste Pinotage (Kanonkop 2012) verower. Ook in 2008 was hy die internasionale wynmaker van die jaar.

Glad nie sleg vir ‘n man wat vyf jaar lank studeer het aan sy graadkursus van vier jaar nie. . . Abrie onthou nog die dag toe hy as B.Sc. Agric-student voor die aansteekbord by die Fakulteit Agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch na sy punte kyk. Van hulle was in die vyftigs, net ‘n raps bo die slaagsyfer. "Jy sal `n plan moet maak en harder leer," het 'n dosent in die verbygaan opgemerk.

Hy het per ongeluk wynmaker geword. Ná Matriek wou hy eers medies studeer, maar is nie daarvoor gekeur nie.

"My kennis sal in die bedryf duidelik raak," het Abrie hardekwas geantwoord. Daarna het hy die daad by die woord gevoeg. In die 46 jaar van die IWSK het Suid-Afrika nog net ses keer die toekenning van Wynmaker van die Jaar ingepalm, en daarvan het Abrie twee keer hierdie eer ingeoes.

Nie dat hy homself op die skouer klop nie. "Ek was so trots op Suid-Afrika toe ek die trofee ontvang," vertel hy. "Ek wens die hele plaas was daar om dit met my te deel."

Hy het per ongeluk wynmaker geword. Ná Matriek wou hy eers medies studeer, maar is nie daarvoor gekeur nie.

Studieleiers by die Universiteit Stellenbosch het toe voorgestel hy moet vir ‘n B.Sc-graad in landbou inskryf. Toe hy vakke moes kies, het wynmaak tot hom gespreek.

[caption id="attachment_113815" align="alignnone" width="600"]Foto: Misha Jordaan Foto: Misha Jordaan[/caption]

Sy ma, Maria (68) was eers geskok toe sy hoor hy wil wymaker word, want sy het gemeen wyn is onheilig. Maar pa, Alex (71), wat tot sy aftrede in die verkoelingsbedryf gewerk het, het gedink “dis oulik’’. Nadat Abrie sy studie voltooi het, het hy in 1998 by die Swartland-kelders as wynmaker begin werk. Daar het hy hy sy vrou, Jeanne (40), ontmoet wat administatiewe werk by die kelders gedoen het. In 2002 het hy as keldermeester by Kanonkop begin werk.
Sy ma was eers geskok toe sy hoor hy wil wymaker word, want sy het gemeen wyn is onheilig.

Dis vir hom lekker dat sy kinders, Ben (7) en Emma (5), hier op 'n wynplaas grootword. “Ben het n klein quad bike waarmee hy rondrits om te kyk wat maak die mense in die wingerde. Dalk sal hy ook eendag belangstel in wynmaak," gesels Abrie.

Party dae staan hy vyfuur op om sesuur in die kelder te wees om voor ontbyt aan tot 200 van die 4 500 vate wyn te proe om die gehalte te toets. "Dan is jou sintuie nog skoon en vars en jy kry die beste idee van die wyn," verduidelik hy.

Hy spoeg die proeseltjies wyn darem uit, maar die alkohol trek tog by jou lyf in. "Ag, dan vat ek maar so `n ruskansie."

[caption id="attachment_113814" align="alignnone" width="600"]Foto: Misha Jordaan Foto: Misha Jordaan[/caption]

Hy maak ook sy eie reeks pinotage onder die naam Beeslaar. Hy maak net 5 000 bottels per jaar wat na agt lande uitgevoer word. Op eie bodem word dit aan top-restaurante verskaf en 'n handjievol privaat-kliënte raap dit op.

Die wêreld se voorste wynmaker steur hom nie aan reëls soos dat jy rooiwyn by kamertemperatuur en net saam met rooivleis moet drink nie. "Jy mag maar `n yskoue pinotage saam met oesters drink," sê Abrie.

"Wyn is daar om te geniet."

Deur Pieter van Zyl