Gelukkig vir haar was daar 'n dokter aan boord wat haar kon bystaan toe sy sowat ses ure na die vliegtuig opgestyg het, skielik besef haar kleinding gaan nóú haar opwagting maak.

Die kaptein het onmiddellik 'n noodsituasie aangekondig en toestemming van lugmagowerhede gevra om 'n noodlanding in Alaska uit te voer.

Maar die babadogtertjie het nie op haar laat wag nie. Sy het haar verskyning sowat ’n halfuur voor die vliegtuig in Alaska kon land, gemaak. Lugwaardinne het die dokter en die nuwe ma bygestaan.

Na die landing in Alaska, is die twee na 'n plaaslike hospitaal geneem. Albei verkeer in 'n baie goeie toestand. Die vrou het alleen gereis.

Na al die opwinding is die vlug na Los Angeles voortgesit waar dit sowat drie ure later as verwag aangekom het.

Praat van ’n kopkrapper rondom haar nasionaliteit: Haar ma is Taiwanees en sy is aan boord van 'n Chinese vliegtuig in Amerikaanse lugruim gebore. Die hospitaal in Alaska is in die moeilike posisie om te bepaal watter nasionaliteit die kleinding nou eintlik kry.

Toevallig is daar nóg 'n baba net laas week hoog bo die aarde gebore. Heba Majdy het op agt maande swanger ook vroegtydig in kraam gegaan op 'n vlug na Egipte. Gelukkig was daar ook 'n dokter aanboord wat haar kon bystaan. Haar babadogtertjie, Nancy, is op die vlug tussen Kuweit en Alexandria gebore.

Die lugredery waarmee Heba gevlieg het, Jazeera Airways, het intussen vir Nancy gratis vlugte tot haar 18de verjaarsdag belowe.

Bronne: Daily Mail; BBC