Maar onlangs het navorsers bevind hoewel familietrekke onbetwisbaar voorkom, is daar ’n wetenskap agter watter kenmerke van pa en ma afkom.

Deur 3D-gesigskarteringsagteware te gebruik om amper 1 000 vroulike tweelinge se gesig te bestudeer, het ’n span wetenskaplikes van King’s College in London met ’n paar interessante bevindings vorendag gekom.

Die gedeelte van die gesig wat die meeste oorgeërf word, is die punt van die neus, het hulle bevind. Die gelaatstrek wat die tweede mees waarskynlike van jou ouers oorgeërf kan word, is iets wat baie mense dikwels nie opmerk nie – die spasie tussen jou neus en jou lip (die sogenaamde filtrum).

Die punt van die neus het amper ’n 66-persent-kans om die gevolg van jou genetika te wees, terwyl die filtrum op sowat 62 persent lê.

Ander dele wat dikwels deur ons genetika beïnvloed word, is onder meer die wangbene en die binnehoek van die oog, sowel as die dele bo en onder die lippe.

Om die studie uit te voer, het die span 952 identiese en nie-identiese vroulike tweelinge se gesig bekyk.

Hulle het die tweelinge se gesig skandeer met 3D-kameras, en het spesiaal ontwerpte statistieksagteware gebruik om die punte van ooreenstemming tussen die tweelinge en hul nie-identiese bloedverwante te bereken.

Deur dié ontleding te gebruik, het hulle gesigkaarte geskep wat lig werp op watter dele van die gesig die mees waarskynlikste oorgeërf word. Die navorsers, wat hul resultate in Scientific Reports gepubliseer het, het vergelyk hoe ooreenstemmend hierdie metings is tussen identiese tweelinge, wat dieselfde gene het, en nie-identiese tweelinge, wat slegs die helfte van die gene deel.

Hulle het hul bevindings gebruik om ’n waarskynlikheidskode vir “oorerflikheid” te skep, wat strek van 0 tot 1, met 1 wat aandui dat die vorm van gesig deur gene beheer word.

“Die idee dat ons gene ons gesig beheer, is vanselfsprekend. Baie van ons het gelaatstrekke wat ooglopend ons ouers s’n weerspieël, en identiese tweelinge is dikwels ononderskeibaar van mekaar,” het die spanne onder leiding van hoofnavorser, prof. Giovanni Montana, gesê.

“Hierdie ‘gesigsoorerflikheidskaarte’ sal help om spesifieke gene wat die menslike gesig vorm gee en dalk ook betrokke is by siektes wat die gesigsmorfologie verander, te help identifiseer,” het hy bygevoeg om die wetenskaplike waarde van die studie te beklemtoon.

Prof. Tim Spector, direkteur van die studie, het bygevoeg dat die studie ook bygedra het tot die wetenskap van identiese tweelinge. “Hierdie studie toon ook aan ons dat selfs identiese tweelinge taamlik baie van mekaar kan verskil wat gelaatstrekke betref, maar omdat die sleutelgebiede geneties beheer word, beskou ons hulle as ‘identies’.”

Bronne: DAILYMAIL.CO.UK, MSN.COM, INEWS.CO.UK