Kenners sê die huidige generasie ouers is van die mees betrokkenes in die geskiedenis. Tog het vandag se kinders die hoogste vlakke van angstigheid, vetsug, depressie en verslawing. Is ons te betrokke?

MY MA het ’n sterk persoonlikheid gehad. Sy was streng en dit was vir haar uiters belangrik dat ons uitblink op skool, fatsoenlik lyk en ons altyd goed gedra.”

Janine Williams* (30) van Durban sê sy het gevoel haar ma het haar obsessie met goeie uitslae en die manier hoe sy dit uit haar kinders gekry het, te ver gevoer.

“Sy het eenkeer opgehou om met my te praat omdat ek tweede in die klas was. My selfbeeld het ’n knou gekry elke keer dat ek nie aan haar verwagtinge voldoen het nie.”

Dit klink soos ’n tipiese tiermamma, sê dr. Shimi Kang, ’n kliniese medeprofessor aan die Universiteit van Brits-Columbië in Vancouver, Kanada.

Die term het die eerste keer bekend geraak danksy Battle Hymn of the Tiger Mother (2011) deur die Chinees-Amerikaner Amy Chua. Daarin skryf sy oor haar stryd om haar kinders op die streng, tradisionele Chinese manier groot te maak.

Shimi het The Dolphin Way: A Parent’s Guide to Raising Healthy, Happy, and Motivated Kids – without Turning into a Tiger in reaksie hierop geskryf. Shimi sê dié ouerskapstyl raak ál meer wydverspreid – en ons kinders ly daaronder. Sy sê hoewel die tierbenadering tot ouerskap meestal spruit uit goeie bedoelings, gaan dit nie oor die grootmaak van kinders wat eendag gebalanseerde, gelukkige volwassenes gaan word nie; die fokus is om die beste kinders met die beste uitslae te hê.

En hoekom? Om te verseker hulle word by goeie skole en goeie universiteite aanvaar en dat hulle goeie werk kry. Sy glo dis een van die hoofredes vir die hoë voorkoms van angstigheid en depressie onder tieners.

Janine gaan nie toelaat dat dit gebeur nie. Sy het twee dogters van onderskeidelik drie en twee jaar en ’n vier maande oue seun en verkies gehegtheidsouerskap. Dit is wanneer sensitiewe en emosioneel beskikbare ouers die kind help om ’n sterk emosionele band met hulle te vorm.

“My pa het minder druk op ons geplaas,” sê Janine, “en ek voel ek het beter daarop gereageer. Hoewel my kinders nog te jonk is om hulle oor skoolwerk te bekommer en ek hulle nooit met luiheid wil laat wegkom nie, voel ek elke kind het hul eie sterk punte en dat ’n gelukkige kind baie meer werd is as een wat siek is weens stres, maar goed op skool vaar.”

Shimi identifiseer drie soorte ouers: die tier, jellievis en dolfyn. Ons bekyk die kenmerke en uitkomste. * Skuilnaam.

DIE TIER:

Is jou verwagtinge van jou kinders onrealisties?

Voel jy jy moet tred hou met die bure?

Probeer jy volmaak wees?

Het jou kinders te veel hooi op hul vurk?

Maak jy die pad gelyk vir jou kind sonder om hom self te laat sukkel?

Shimi sê tierma’s maak staat op straf en vrees of laat hul kinders te veel toe, met belonings om beter resultate te bereik. Kinders is dikwels oorwerk en ouers is geneig om hulle te laat glo hulle vaar net goed as hulle beter as ander vaar. Sy glo ouers wat oorbeskermend is, kan ook in hierdie kategorie val.

Die gevolge: Dit kan kinders ingeperk en oorwerk laat voel, en ouers en kinders ervaar gewoonlik skuldgevoelens as hulle nie die doelwitte bereik nie. Shimi sê dit kan ook daartoe lei dat ouers kinders te veel toelaat omdat hulle skuldig voel omdat hulle hul kinders so hard laat werk. Dit lei daartoe dat die ouers gedrag toelaat wat nie in ’n gebalanseerde verhouding verduur sou word nie, byvoorbeeld om met ’n klomp gemorskos beloon te word vir goeie punte.

“Kinders van wie verwag word om bo hul vermoë te presteer, kan voel hulle is nie goed genoeg nie. Dit kan aanleiding gee tot ’n swak selfbeeld,” sê Kirsten Friis, ’n voorligtingsielkundige van Kaapstad.

DIE JELLIEVIS:

Is jy soms bang om jou kind kwaad te maak?

Gee jy in as jou kind ’n woedeuitbarsting het?

Het jy al ooit dinge toegelaat waarmee jy nie saamstem nie sodat jy nie die verhouding met jou kind skaad nie?

Voel jy uitgeput omdat jy gedurig jou kind se behoeftes moet bevredig?

Voel jy jou kind respekteer nie jou gesag nie?

Jellievis-ouers het “nie ’n ruggraat nie”, sê Shimi. Hulle laat swak gedrag toe, vermy konfrontasie met hul kinders en het nie enige duidelike grense of reëls nie. Sy sê dit gebeur dikwels omdat hulle glo dat hulle die kinders toelaat om “te wees wat hulle wil wees”.

Die gevolge: Shimi waarsku dit kan lei tot minagting van gesag, sosiale etiket en persoonlike waardes. Kinders kan ook gedrag soos dwelm- en alkoholgebruik openbaar.

“Kinders sonder grense kan meer geneig wees tot angstigheid of riskante gedrag,” sê Kirsten.

DIE DOLFYN

Maak jy staat op intuïsie eerder as reëls?

Sorg jy dat jou kind gereeld vrye tyd het?

Laat jy jou kinders die werk deel om hul doelwitte te bereik pleks van om dit vir hulle te doen?

Laat jy jou kinders toe om hul innerlike selfbeheer te gebruik om doelwitte te bereik?

Is jou kinders bewus van die belangrikheid van ’n bydrae tot hul gemeenskap en familie?

Shimi noem dié ouerskapstyl die dolfyn omdat dolfyne fokus op speel, verkenning, sosiale bande en gemeenskapsbetrokkenheid eerder as op reëls en opdragte. Langtermyndoelwitte en ’n gebalanseerde lewe is belangriker as korttermyndoelwitte soos medaljes en toetsuitslae. Dolfyn-ouers is ferm en het duidelike reëls en verwagtinge wat die akademie en dissipline betref, maar heg waarde aan individuele drome en onafhanklike stemme. Hulle gee leiding eerder as opdragte en vermy dit om streng strawwe en belonings te gebruik om hul kinders aan te spoor.

Die gevolge: Shimi sê op dié manier leer kinders om skeppend te dink, om met oplossings vorendag te kom en aan te pas. Hulle leer sosiale vaardighede, grense en respek vir gesag. Hulle word van binne gemotiveer en hul dissipline kom van binne eerder as van ’n ouer of onderwyser. Kirsten sê dié styl skep grense wat kinders ’n gevoel van sekuriteit bied.

“Die kind word aangemoedig om verantwoordelikheid vir sy gedrag te aanvaar, en hy sal dalk meer geneig wees om ’n interne fokus of beheer te ontwikkel.”

‘N PLAASLIKE KENNER SE RAAD:

Kirsten Friis, ’n voorligtingsielkundige van Kaapstad, stem saam dat die tier-ouerskapstyl kan lei tot ’n swak selfbeeld onder kinders en dat die dolfyn-ouerskapstyl meer buigsaamheid bied. Sy maan ’n mens moet versigtig wees om alles aan jou ouerskapstyl toe te skryf.

“Sielkundige probleme het veelvoudige oorsake; al kan ’n ouerskapstyl tot die ontwikkeling van sielkundige probleme lei, is dit nie noodwendig die enigste oorsaak van probleme nie.”

Kirsten sê sy dink hoewel die klassifikasies nuttig is om verskillende ouerskapstyle te verduidelik, is dit moeilik om dit te verplaas na die Suid-Afrikaanse konteks.

“In baie Suid-Afrikaanse huishoudings is die primêre versorger nie noodwendig ’n biologiese ouer nie. Grootouers, tannies, ooms, broers en susters kan die rol van die versorger vervul; daarom kan die verhouding tussen ’n kind en die versorger aansienlik verskil as dit vergelyk word met die klassifikasies wat Shimi beskryf.”

Sy voeg by dis ook moontlik dat versorgers al drie die ouerskapstyle kan gebruik. “Ouerskap is dikwels buigsaam en hang af van die situasie. Ouers kan dus tydens die skoolkwartaal meer van ’n tierbenadering volg, maar dalk in skoolvakansies die reëls ’n bietjie verslap.”

Kirsten sê sy glo nie daar is een ouerskapstyl wat vir almal geskik is nie.

“Ek sou aanbeveel dat versorgers ’n ouerskapstyl volg wat sensitief is vir ’n kind se ontwikkeling en fisieke en emosionele behoeftes en wat hul unieke konteks goed pas en vir hulle werk.

“Daar is dikwels groot druk op versorgers om uiters voorskriftelike reëls en roosters met ouerskap te volg.

“Ek sou aanbeveel dat dit as riglyne gebruik word, maar dat versorgers ook hul intuïsie volg. Kinders floreer wanneer daar duidelike grense is en wanneer hul behoeftes erken word en daar op ’n toepaslike wyse daaraan voldoen word,” sê Kirsten.

SHIMI SE WENKE OOR HOE OM N DOLFYN TE WEES:

Gee jou kind vrye tyd en laat hulle toe om meer te speel.

Wees sosiaal. Moedig hegte bande tussen vriende en familie aan deur legkaarte te bou of saam te kook. S Wees ’n rolmodel pleks daarvan om opdragte te gee.

Kyk na jou eie en jou kind se fisieke behoeftes: Drink genoeg water, eet gesond, wees aktief, kry genoeg slaap en help jou kind om te leer hoe om na sy liggaam se seine te luister.

Gebruik woorde en gedrag wat jou kind se interne beheer aanmoedig. Byvoorbeeld, as ’n tiener nie vir ’n toets wil leer nie, sê iets wat hulle sal help verstaan dis hul verantwoordelikheid, nie joune nie. Byvoorbeeld: “Ek kan nie beheer hoe jou kop werk nie; daarom is dit op die ou end in jou hande hoe hard jy gaan probeer.”

Stel oop vrae. Byvoorbeeld, toe Shimi se seun wegbly van sokkeroefening, het sy die fout gemaak om te vra hoekom hy nie gegaan het nie (’n geslote vraag). Sy antwoord was eenvoudig: “Ek wou nie gaan nie,” maar toe sy opvolg met ’n oop vraag: “Wat het vandag gebeur?”, het hy vertel wat werklik gebeur het: “Joey het my op die rug geslaan en ek was ná skool baie moeg en wou nie gaan oefen nie.”

– A Parent’s Guide To Raising Healthy, Happy , And Motivated Kids deur dr. Shimi Kang (Tarcher, R355* by kalahari.com).

*BESKIKBAAR TEEN HIERDIE PRY S BY KALAHARI.COM. PRY S WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAF KENNISGEWING.

- Dalena Theron

Koop die boek hier.