Ernst van Dyk, die veteraan-rolstoeljaer en handfietsryer, is ’n groot gunsteling. Hy neem vanjaar aan sy sewende agtereenvolgende Paralimpiese Spele deel. Sy eerste Spele was in 1992 in Barcelona.
Suid-Afrika se span van 19 atlete neem aan 10 verskillende sportsoorte deel, waaronder atletiek, kano, fietsry, gewigoptel, boogskiet, perdesport, roei, swem, skiet en rolstoel-tennis. Zanele Situ, ’n spiesgooi-atleet, neem vanjaar aan haar vyfde Spele deel. Zanele is in 1982 op die ouderdom van 12 verlam nadat sy ’n infeksie in haar ruggraat opgedoen het.

Van die ses swemmers wat vanjaar deelneem, het vier by die vorige Spele in London medaljes gewen. Hulle is Shireen Sapiro, Achmat Hassiem, Hendri Herbst en Kevin Paul.

Perdry-ekspert Philippa Johnson, wat agt jaar gelede in Beijing ’n goue medalje gewen het, neem vanjaar aan haar vierde Olimpiese Spele deel.

Uit die tennisspan van vier het drie spelers, KG Montjane, Lucas Sithole en Evans Maripa ook vier jaar gelede aan die Spele in London deelgeneem. Die vierde lid, Leon Els, is ’n nuweling in die span.

Ander atlete wat in London medaljes verwerf het en ook vanjaar in Rio de Janeiro te sien is, is Ilse Carstens (néé Hayes), Anrune Liebenberg, Jonathan Ntutu, Fanie van der Merwe, Arnu Fourie, Hilton Langenhoven, Union Sekailwe en Dyan Buis.

Die tieneratleet Ntando Mahlangu, wie se bene albei in 2012 onder die knie geamputeer is, is ook deel van die baan- en veldspan. Ntando het in 2012 ook sy eerste stel lemme ontvang.

Tubby Reddy, Sascoc se hoofuitvoerende beampte, sê ons paralimpiese atlete het by vorige speles die land trots gemaak en het ‘n uitstekende rekordgeskiedenis, na 29 medaljes in 2012 by die spele in London verwerf is.