Die vliegtuig se vlugdataopnemer is Maandag van die bodem van die vlak see opgetrek. Die stuurkajuitstemopnemer is ook opgespoor, maar is nog nie opgediep nie. Dit kan tot twee weke duur om die data van die opnemers af te laai. Gegrond op vorige ongelukke, kan die inligting deurslaggewend wees. Die twee aparte toestelle – oranje kassies wat ontwerp is om uiterste hitte en druk te weerstaan – behoort die ondersoekers ’n sekonde-vir-sekonde-tydlyn van die vliegtuig se vlug te bied. Die stemopnemer ontvang oudiotoevoer van vier mikrofone in die stuurkajuit. Dit neem al die gesprekke tussen die vlieëniers en lugverkeerbeheerders op asook enige geraas wat in die stuurkajuit gehoor word. Dit kan alarms wees wat afgaan of harde ontploffings. Dit neem twee uur op ’n keer op. Dus sal die ondersoekers hier nie net die vliegtuig se laaste minute kan vaslê nie, maar die hele reis van 42 minute.

'Die vlugdataopnemer lê 25 uur se inligting vas.'

Die vlugdataopnemer lê 25 uur se inligting vas oor die ligging en toestand van amper elke belangrike onderdeel in ’n vliegtuig.

Van die belangrike items wat opgeneem word, is die hoogte, lugspoed, teen watter hoek die vliegtuig styg of daal, in watter rigting van die kompas dit vlieg, teen watter hoek dit op of af wys, of die vliegtuig na links of na regs leun, die koers waarteen brandstof daarna vloei, die druk in die hidroliese lyne en die posisie van die flappe, rigtingsroer en landingstoerusting.

Terwyl dit tot twee weke kan duur om al die data te ontleed, behoort die ondersoekers geen probleme te ondervind om dit te lees nie. Die opnemers is ontwerp om ’n brand van 1100 oC 30 minute lank te weerstaan en dan ’n brand van 260 oC 10 uur lank, asook druk van seedieptes tot op sowat 6 100 m.

By vorige ongelukke het die vlugdata- en stuurkajuit-opnemers deurslaggewende inligting aan ondersoekers verskaf.

Toe Asiana Airlines se vlug 214 in 2013 in San Francisco duskant die landingstrook neerstryk, het die dataopnemer getoon die vlieëniers het die vliegtuig tot ver benede sy normale landingspoed laat daal. Hulle het eers sekondes voor hulle geland het, die fout agtergekom en toe probeer versnel.

Die opnemers was nog belangriker om te probeer uitpluis wat met Air France se vlug 447 gebeur het. Die vliegtuig het in 2009 oor die Atlantiese Oseaan verdwyn terwyl dit van Rio de Janeiro na Paris gevlieg het. Die ondersoekers kon die opnemers later uit die dieptes van die see optrek en leer oor foute wat die vlieëniers gemaak het nadat hul vliegtuig se lugspoed tot op staakspoed laat daal het.

Op die agtergrond van die paniekerige gesprek kan gehoor word hoe rekenaarstemme waarsku: “Stall. Stall. Stall.” Die alarm het telkens tydens die vlug se laaste minute afgegaan.

In die oorskrif staan daar onder meer een van die vlieëniers het gesê: “Ek verstaan nie wat gebeur nie.” Oomblikke later sê die ander vlieënier: “Verdomp, ek het nie beheer oor die vliegtuig nie. Ek het glad nie beheer oor die vliegtuig nie.”

- Deur Scott Mayerowitz/Sapa