Kersfees is die tyd vir familie, geskenke, tafels wat kreun onder die kos . . . en natuurlik Kerspasteitjies (mince pies).

Die Johannesburgse Huisgenoot-joernaliste en -fotograwe het onderneem om drie kettingwinkels se pasteitjies te proe en te besluit watter hul  goedkeuring wegdra.

Daar is gekyk na hoe dit lyk, die tekstuur van die deeg en gemaalde droë vrugte en watter die lekkerste proe.

Ons paneel van ses fynproewers het punte gegee vir elk en eindelik is Checkers se Classic Style Fruit Mince Pies gekroon.

“Lekker! Hulle was nie skaam toe hulle die strooisuiker bo-oor gestrooi het nie, tog was die eindproduk nie té oorweldigend soet nie,” het die joernalis Herman Scholtz te sê gehad. “Ek hou daarvan dat die vrugte nie te fyn gemaal is nie,” meen die leerlingjoernalis Koketso Mashika.

’n Kort koppie agter was die Deep Filled Fruit Mince Pies van Pick n Pay.

“Dié pasteitjie bult van al die vulsel. Daar is beslis genoeg vrugte binne-in en die deeg is lekker bros,” sê die joernalis Alet van Zyl. “Ek hou van die goue kleur van die deeg, maar die vulsel het ’n bietjie te veel kaneel in,” sê die joernalis Gilda Narsimdas.

Laaste in die ry was Woolworths se Fruit Mince Pies. “Ek het daarvan gehou dat die vulsel nie so baie was nie,” meen Koketso. “Hierdie een se spesery is net reg,” sê Gilda. “Die deeg is net te hard,” sê die fotograaf Luba Lesolle.