Ons almal weet misdaad is ’n probleem in ons land, maar besef nie aldag presies hoe geweldig dit ons gewoontes en roetine raak nie.

[caption id="attachment_135699" align="aligncenter" width="600"]Foto: Ter illustrasie / Pixabay Foto: Ter illustrasie / Pixabay[/caption]

Het jy byvoorbeeld geweet een uit drie gesinne in Suid-Afrika besoek nie openbare plekke of gaan stap alleen in parke nie uit vrees vir misdaad? Of dat een uit vyf huishoudings in die land nie hul kinders toelaat om in hul woonbuurt buite te speel nie omdat hulle vrees vir die kinders se veiligheid?

Dit is net enkele van die droewige onthullings wat Statistiek Suid-Afrika Dinsdag in hul jongste peiling oor misdaadslagoffers in Suid-Afrika gemaak het.

“Daar is van 2011 tot 2015 en 2016 ’n merkbare afname in die getal gesinne wat veilig voel om deur die dag of wanneer dit donker is alleen buite te stap,” sê dr. Pali Lehohla, die statistikus-generaal, in die verslag.

Die organisasie het onder meer gesê die nuwe syfers is besonder kommerwekkend omdat dit wys watter direkte uitwerking misdaad het op kinders se geleenthede om te groei, speel en leer.

Die Wes-Kaap het die meeste huishoudings wat nie hul kinders buite laat speel nie; 42,9 persent van huisgesinne het gesê hulle is bang hul kinders raak misdaadslagoffers. In dié provinsie mag 34,7 persent van kinders weens dieselfde vrese ook nie skool toe stap nie.

“Wanneer gesinne oor hul opinie oor misdaad gepols word, is dit duidelik hulle voel inbrake, diefstal en rooftogte is van die algemeenste misdade. Dit word ook die meeste gevrees.

“Dit stem ook ooreen met die getal misdade wat huisgesinne beleef. Huisbrake, diefstal en rooftogte is die algemeenste misdaad waaronder huishoudings deurloop.”