Die sanger Rudi Claase het Maandag sy aanhangers die skrik op die lyf gejaag toe hy ’n foto van homself in die hospitaal op sy Facebook-blad gedeel het.

In die foto lê Rudi mismoedig op ’n hospitaalbed terwyl hy binneaarse voeding ontvang. Maar, word ons dadelik gerusgestel, hy is nie ernstig siek nie. Hy is Sondag opgeneem met erge bronchitis en maagggriep, maar dieselfde dag weer huis toe.

Charmuche Pelser, Rudi se bestuurder, het Maandagoggend bevestig die ster was net ’n kort rukkie in die hospitaal. Sy vertel Rudi het in die hospitaal beland na "gastriese komplikasies" weens die medikasie wat hy vir die bronchitis geneem het.

“Hulle het hom binneaarse voeding gegee, maar hy sterk nou by die huis aan,” het Charmuche gesê.

Rudi het sy ondersteuners bedank vir hulle pragtige bystand en mooi boodskappe in hierdie moeilike tyd. “Ek sterk goed aan,” het hy geskryf.

Die sanger het reeds Vrydag op Facebook vertel hy voel nie lekker nie. “Ag aarde!!! Daar skrik ek wakker met die vreeslikste keelseer en hoes! Pas julle mooi op met hierdie vreemde weerpatrone wat ons ervaar! Liefde Rx." Twee dae later was hy in die hospitaal.

Nadat hy die foto gedeel het, het verskeie aanhangers hom ’n spoedige herstel toegewens.

“Hi Rudi, word gou gesond, jy moet sing jong. Liefies sterkte. Geseënde dag vir jou en jou kosbare verloofde,” het Martie Putter Vorster laat hoor.

Renée Pretorius het weer geskryf: “Kom, kom, kom Ruds...wat se hospitaallêery is dié? Opstaan, skud daai boude en laat ons jou stem hoor. Word gou gesond.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Kovsies maak skokaankondiging rakende hul rektor, prof. Jonathan Jansen

Christopher Panayiotou terug in hof ná nuwe feite glo aan die lig kom

Tweede verdagte in Winnie Rust-moordsaak vasgetrek

Voormalige Mej. SA oorleef gru-ongeluk

Heftige Inge Lotz-debat ontketen sleutelvraag: Het haar eertydse kêrel haar vermoor?