Talle Pretorianers sal Dinsdag en Woensdag moet klaarkom met minder of geen water, terwyl noodsaaklike instandhouding en opgradering vir 48 uur aan die watertoevoernetwerk gedoen word.

Jeannie du Plessis, skakelbeampte van die projek, sê sommige voorstede sal nog water hê tot die reservoirs leeggeloop het. In sommige gebiede kan dit tot agt uur duur voor mense se water afgesny word.

“Elke gebied se omstandighede is anders en daar kan nie ’n lyntjie getrek word om te sê presies hoe die onderbrekings gaan werk nie,” sê sy.

“Baie van die reservoirs gaan leegloop en teen die tyd dat die toevoer weer aangeskakel word, sal die reservoirs leeg wees.”

Sy sê weens die verwagte hoë verbruik wanneer dit gebeur gaan die watertenks moontlik nie kans hê om weer vol te loop nie. “Tot die reservoir vol is, sal die drukking van die water ook nie herstel nie.”

Dr. Anthony Turton, waterkenner en omgewingsraadgewer, sê wateronderbrekings is hier om te bly en die publiek moet gewoond raak aan die ongerief.

Sy wenke is:

  • Hou ’n skoon waterhouer in die yskas. “Meeste infeksies word deur sekondêre besoedeling veroorsaak wanneer water in ’n houer met patogene gestoor word.” Die goedkoopste is die Cleansui-beker, wat deeglik getoets is en goed werk. Dit het ’n filtreerstelsel wat alle patogene en toksiene verwyder.
  • Gebruik ’n waterkan (Jerry can). Dit is belangrik om dit skoon te hou.
  • Mense wat in ’n residensiële kompleks woon, kan ’n ononderbroke watertoevoerstelsel oorweeg. Dit word deur BidVest SA Water gemaak en kan gehuur word. Die stelsel verskaf 48 uur-bystandwater vir woonkompleks, maar kan ook munisipale water prosesseer tot ’n kwaliteit beter as die SANS 241-standaard.
  • Verbruikers moet daarvan bewus wees dat ons meer en meer met beperkings gaan noet saamleef, wat beteken ons moet veranderinge maak. “As almal die water wat hulle gebruik 1,6 keer herwin sal ons nie beperkinge aan die ekonomie en werkskepping-kapasiteit sien nie wat beteken water van verskillende kwaliteit kan vir verskillende doele gebruik word,” sê Anthony. Soos gryswater vir toilette en geute kan met reënwater-opvangstelsels uitgelê word.
  • Dit bly egter belangrik dat die verbruiker hulself nie aan bykomende risiko moet blootstel nie, deur sekondêre gebruik, soos wanneer skoon water in ’n vuil houer geberg word.

Ander waterbesparingswenke vir Pretorianers is:

  • Plaas ’n emmer in die stort terwyl jy vir die water wag om warm te word. Die water kan gebruik word vir toilette of om plante nat te lei.
  • Draai die kraan toe terwyl jy tande borsel en draai dit net oop wanneer jy jou mond spoel.
  • Draai die kraan toe terwyl jy jou hande was.
  • Herstel lekke by jou huis; dit kan baie water spaar.
  • Gebruik water waarmee jy kook, soos vir pasta, wanneer dit afgekoel het om plante nat te gooi.
  • Stort vinnig.
  • Verdubbel jou gebruik van handsanitasiejel. Jy kan ’n sproeibottel met Spaanse seep, water en baie teeboom of ander antibakteriese olie vul. Sprei dit aan jou hande en spoel jou hande in ’n emmer of wasbak met water af.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-munisipaliteit, sê ’n staalpyp van 1,2 m in omtrek moet vervang word. Die munisipaliteit doen ’n beroep op mense om reëlings te tref.

“Sodra die pype geïnstalleer is, sal die gemeenskap minder uitdagings en watertekorte ervaar,” sê Lindela.

Hy sê die projek sal altesaam sowat R12,7 miljoen beloop en ná voltooiing sal die gebiede ’n betroubare infrastruktuur hê.

Die gebiede wat geraak word, is: La Montagne, Die Wilgers, Murrayfield, Mamelodi, Garsfontein, Ashlea Gardens, Samcor Park, Silverton, Silvertondale, Villieria, Jan Niemand Park, Waltloo, East Lynne, Rietfontein, Val-de-Grace, Kilner Park, Meyerspark, Equestria, Lynnwood, Lynnwood Glen, Lynnwood Ridge, Lynnwood Park, Faerie Glen, WNNR, Waverley, Eersterust, Queenswood, Brummeria, Constantia Park, Newlands, Ekklesia, Waterkloof Glen, Moreletapark, Alphen Park en Menlyn.

Ekstra bronne: Care2, Backdoorsurvival.com