“Die wetgewing stel dit duidelik dat wanneer ’n oortreder 50 persent van sy tronkstraf voltooi het, hy vir parool oorweeg kan word, mits hy die interne korrektiewe programme voltooi het en goeie gedrag openbaar,” sê ’n woordvoerder, Manelisi Wolela.

Reinach Tiedt, Gert van Schalkwyk, Christoff Becker en Frikkie du Preez gaan op 11 Februarie vrygelaat word.

Dié vier is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op ’n man in ’n Pretoriase park in 2001.

Verlede jaar het die hooggeregshof in Pretoria opdrag gegee dat Reinach en Gert terugkeer na die Zonderwater-gevangenis nadat hulle vroeër onder korrektiewe toesig vrygelaat is.

Wolela het gesê die vier het baie goeie gedrag getoon en het die interne program deurloop.

“Ons het baie streng paroolvoorwaardes; enige afwyking van dié voorwaardes kan daartoe lei dat hul parool teruggetrek word,” het hy gesê.