Die veroordeelde moordenaars Christoff Becker, 27, en Frikkie du Preez, 27, is Sondagmiddag weer in hegtenis geneem nadat video’s van hul gemaklike lewe, partytjies met alkohol en hul vrye gebruik van selfone in die tronk uitgelek het.

’n Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), Manelisi Wolela, het gister bevestig dat Becker en Du Preez weer gearresteer is en terug in aanhouding is.

In ’n verklaring het Wolela gesê die twee is weer in hegtenis geneem in verband met ’n ondersoek na bewerings dat drank vir hulle in die tronk ingesmokkel is en omdat hulle na bewering ’n partytjie in die tronkselle gehou het.

“?’n Ondersoek daarna sal in die volgende 72?uur gedoen word.”

Die Sondagkoerant, Rapport, het gister berig dat Becker en Du Preez in hul 5½ jaar agter tralies bederf is met wegneemetes, satelliet-TV, lang sessies in die gimnasium en na bewering selfs drank.

Hulle is in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria aangehou.

“Die departement beskou die aantygings in die media oor die smokkel van alkohol en die partytjie wat met ’n selfoon of kamera opgeneem is in ’n baie ernstige lig. Gevangenes mag nie selfone of kameras in die tronk besit nie.

“Die DKD-kommissaris in Gauteng het die ondersoek vandag reeds gelas,” het Wolela gesê.

Volgens Wolela gaan Becker en Du Preez, wat sedert verlede Dinsdag op parool is, asook beamptes en bestuurders wat tydens die maak van die video aan diens was, ondervra word.

In een van die video’s wat glo sowat ’n week voor hul vrylating gemaak is, hou Becker, Du Preez en ’n vriend genaamd “Farmer Hennie”, ’n “afskeidspartytjie” in Becker se enkelsel, het Rapport berig.

In die opnames kan ook gesien word hoe Becker met sy kaal bolyf voor die spieël staan en ’n selfoonvideo van homself neem.

Popmusiek blêr die hele tyd in die video. In die tronksel is ’n wasbak, ’n tafel met ’n rekenaar en ’n potplant met hartvormige blare.

Tydens die partytjie drink die drie uit koffiebekers en Becker spog dat hulle “?’n botteltjie iets” gekry het om die partytjie mee op te vrolik.

Hy wys dan ’n prentjie van ’n bottel Johnnie Walker Red Label en J&B-whisky op sy rekenaarskerm.

Du Preez sê dan: “Dit is wat Francois vir ons gestuur het.

“Ons probeer opwarm sodat julle ons nie in die skande steek as ons uitkom nie.”

Net daarna sê Becker: “Ons is nou ’n bietjie gekuier.”

Hy het ook op harde musiek gedans terwyl hy sy spiere gebult het.

Later klim hy op sy bed en sê: “Ek gaan ’n bietjie afbliksem, nè?”

Francois Lubbe, Becker en Du Preez se vriend wat die dag van hul vrylating na hul groep vriende as die wolfpack verwys het, het gister gesê hulle is hartseer oor die nuwe verwikkelinge.

“Ek het nie die video uitgelek nie en ek het ook nie gehelp met die insmokkel van drank (alkohol) nie.

“Ek het geen kommentaar nie, asseblief,” het hy gesê.

Bronne: Sapa, Beeld, Rapport