Sy verjaarsdag was altyd ’n jolige affêre met sy ouerhuis vol vriende en die geur van braaivleis in die lug.

Maar vanjaar bring Christoff Becker sy 24ste verjaardag in die Pretoria-Sentraal-gevangenis deur en sy ma Mariëtte mag hom nie eens vandag bel om geluk te sê of by hom gaan kuier nie.

Boonop lê sy pa, Christo, tot verlede jaar nog hoof van die spogskool Hoërskool Waterkloof, in die hospitaal nadat hy ’n paar dae tevore ’n epileptiese of hartaanval gehad het.

Maar in Pretoria word gefluister dat hy ’n oordosis pille gesluk het. Hy is immers by die skool afgedank nadat hy vir beweerde geldelike ongerymdhede van sowat R5 miljoen ondersoek is. En die gesin is diep in die skuld.

Nee, haar man sou nooit probeer selfmoord pleeg nie, sê Mariëtte, ’n blonde vrou met die lyf van ’n tiener. Sy lyk asof sy al gewoond daaraan is om braaf te probeer lyk, selfs al huil sy in haar binneste.

“Christo sou nooit ’n oordosis pille drink nie. Hy kry gereeld hoofpyn en drink dan hoofpynpille daarvoor, maar dié was iets anders,” hou sy vol. “Die dokter het medikasie vir epilepsie voorgeskryf, en ons wag nog vir die uitslae van ’n paar toetse.”

Is haar man depressief sedert sy seun tronk toe is en hy sy werk kwyt is? Sy bly lank stil. “Daar is baie seerkry in ons lewe. En ja, Christo sprankel nie meer soos voorheen nie. Hy dink baie na oor alles wat gebeur het . . .”

Sy, haar man en hul twee seuns het ’n droomlewe gehad, maar toe doen haar oudste en drie van sy vriende iets wat Mariëtte nou nog nie kan kleinkry nie.

Ondanks ’n uitgerekte hofsaak en hul uiteindelike skuldigbevinding aan moord, weier sy steeds om te glo Christoff en sy vriende, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt, het ’n werklose man in Desember 2001 brutaal in Moreletapark in Pretoria aangerand en vermoor.

As lid van die berugte Waterkloof-vier, soos hulle bekend geraak het, is Christoff tot 12 jaar tronkstraf gevonnis.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 12 Augustus 2010

Bespreek vir Skouspel!