“Anargie in enige korrektiewe sentrum sal nie geduld word nie, en enige beampte of oortreder wat aan so ’n misdryf skuldig bevind word, sal vervolg word,” het hy in ’n verklaring gesê.

Meer as 171 beamptes van die departement van korrektiewe dienste is sedert 2009 afgedank, gedemoveer of geskors weens misdrywe wat met korrupsie en bedrog verband hou.

Die veroordeelde moordenaars, Frikkie du Preez en Christoff Becker, is Sondag weer in hegtenis geneem, vier dae nadat hulle op parool vrygelaat is. Hulle het na bewering alkohol die tronk binnegesmokkel en ’n partytjie in een van die selle in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria gehou.

’n Selfoonvideo van die partytjie is op YouTube gelaai. Daarin drink Frikkie en Christoff na bewering alkohol en hulle gebruik ’n selfoon in ’n tronksel.  Christoff, Frikkie, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is Dinsdag vrygelaat nadat hulle ’n hawelose man in 2001 in Pretoria doodgeslaan het.

Die jongste inligting oor die ondersoek na die tronkpartytjie sal vandag beskikbaar wees, het Manelisi Wolela, ’n woordvoerder van korrektiewe dienste, gesê. Hy het Sondag gesê die video sal ondersoek word, die twee gevangenes sal ondervra word, en beamptes wat daardie dag aan diens was, sal ook ondervra word.