Ouma Christa Roos en oupa Werner sukkel om verblyf te kry en hulle soek nou werk in die Kaapstad-omgewing.

Mamma Melissa Roos is ’n opgeleide grimeerkunstenaar en probeer tussen al die hospitaalbesoeke en slapelose nagte deur om ’n kliëntebasis op te bou van mense wat sy by hul huise kan besoek en mooi maak. 

Die hele familie is nou in Kaapstad om naby die Tygerberg-hospitaal en Roookruis-kinderhospitaal te wees. Sodra Nadya gesond genoeg is, gaan spesialiste haar opereer om dalk ’n tweede stent in te sit om die vog vinniger uit haar koppie te dreineer ten einde die drukking op haar brein te verlig.

Dokters in Pretoria het oor en oor vir Nadya se ouers, Melissa Roos (23) en Ralph Stirk (48), aangeraai om haar  te laat aborteer omdat sy met ’n waterhoof gebore sou word, maar hulle het vasgeskop. En hulle is nie ’n dag spyt daaroor nie. “Sy is my liefde. Sy is my lewe,” vertel Melissa Roos.

Skanderings het getoon Nadya sou buiten die waterhoof met ’n lys ander probleme gebore word. Haar gesiggies ou kwansuis misvormd wees en sy sou lamgelê wees met spina bifida, waar die ruggraat nie ordentlik ontwikkel nie en daar openinge tussen werwels is. Een het selfs gesê: “Nie eens God sal haar kan help nie.”

“Sy is my liefde. Sy is my lewe.”

Nadya is eindelik op 30 April deur middel van ’n keisersnee in die Tygerberg-hospitaal in Bellville buite Kaapstad gebore omdat Ralph en Melissa gevoel het hulle kon nie die geskikte hulp vir hul dogter nader aan Pretoria kry nie.

Klein Nadya het onlangs pypies in haar ore gekry om met die oorinfeksie te help. Hulle wag om te hoor wanneer sy geopereer sal word om haar kop te laat krimp moontlik met ’n tweede stent wat die vog deur haar magie weglei.

Maar vir nou wil die familie almal sorg dat hulle op een of ander manier almal ’n inkomste kan kry om Nadya te help oorleef en om ook iewers ’n tuiste te kan skep waar die kleinding geborge sal voel.

*Die term hidrokefalie is afgelei van die Griekse woorde “hidro”, wat beteken water, en “cephalus”, wat beteken kop. Soos die naam aandui, is dit ’n toestand waarin die primêre kenmerk ’n oormatige opeenhoping van vloeistof in die brein is.

Hoewel hidrokefalie eens bekend was as “water op die brein”, is die “water” eintlik serebrospinale vloeistof (SSV) – ’n helder vloeistof wat die brein en rugmurg omring.

Die oormatige opeenhoping van SSV lei tot ’n abnormale vergroting van ruimtes in die brein, bekend as ventrikels. Die verbreding skep potensieel skadelike druk op die weefsel van die brein.