Die kleinding het ’n kiem, streptokokkus, opgedoen en dit vererger haar epileptiese aanvalle.

“Ons moet haar nou monitor en as sy nie ná 48 uur beter is nie, moet sy opgeneem word. Ons het gesukkel om haar medikasie te kry oor ons nie meer fondse het nie,” vertel Melissa.

Daar was gelukkig mense wat uitgehelp het. Net soos mense wat met verblyf, lugtyd en inkopies gehelp het.

Probleme met haar seer keel is beter, maar sy het weer middeloorontsteking gehad. “Dis net asof sy nie ’n blaaskans kry nie. Dis een ding op die ander. Gelukkig het haar aanvalle gestop.

“Maar ons het nie meer kos of fondse oor nie, ek is nog hard op soek na werk maar hoor niks terug nie. My ma het siek geraak. Ons gee nie moed op nie. Ons bid nog al die pad baie hard en die regte werk sal seker op die regte tyd kom.

“Ek weet nie hoe ek ooit genoeg dankie gaan of kan sê vir almal wat ons so help nie," voeg sy by.

Boonop word Nadya op 30 April een. “Ek probeer vir haar ’n ou ietsie spesiaals reël, hopelik sal dit ’n sukses wees.”

*Die term hidrokefalie is afgelei van die Griekse woorde “hidro”, wat beteken water, en “cephalus”, wat beteken kop. Soos die naam aandui, dit is ’n toestand waarin die primêre kenmerk ’n oormatige opeenhoping van vloeistof in die brein is.

Hoewel hidrokefalie eens bekend was as “water op die brein”, is die “water” eintlik serebrospinale vloeistof (SSV) – ’n helder vloeistof wat die brein en rugmurg omring.

Die oormatige opeenhoping van SSV lei tot ’n abnormale vergroting van ruimtes in die brein, bekend as ventrikels. Die verbreding skep potensieel skadelike druk op die weefsel van die brein.

“Buiten haar koppie is sy perfek en pragtig,” vertel Melissa. Skanderings het ook getoon haar brein blyk normaal te wees.

Klein Nadya kan nie genoeg kry van haar mamma se soene nie. Sodra Melissa ophou, druk sy haar gesiggie teen haar ma se nek. Dan kyk 'n mens verby haar reuse kop na die popmooi gesiggie en veerfyn lyfie.

Toe ek haar vashou, versigtig met ’n hand onder haar kop met die dreineringspypie duidelik voelbaar, is dit opmerklik dat haar koppie swaarder as haar lyfie weeg. Altesaam weeg sy nou 10,1kg. Die normale gewig van ’n baba op hierdie ouderdom is so 6,8kg.

Hidrokefalie is by klein Nadya gediagnoseer toe haar ma 23 weke swanger was. Die een na die ander ginekoloog in Pretoria, waar hulle in Waverley bly, het aan Melissa gesê dit sou beter wees om ’n aborsie te hê. “Nie eens God sal haar kan help nie,” het een selfs gesê.

Maar Melissa het vasgeskop en sê nou: “Ek is nie ’n minuut spyt nie.”

Skanderings tydens die swangerskap het getoon sy sou met ’n lys van probleme bo en behalwe die hidrokefalie gebore word. Haar gesiggie sou kwansuis misvormd wees en sy sou lamgelê wees met spina bifida, waar die ruggraat nie ordentlik ontwikkel nie en daar openinge is.

“En kyk nou hoe pragtig is sy. As dit nie vir die swaar kop was nie, sou sy al regop gesit het. Sy probeer gereeld om dit te doen,” vertel Melissa en gee die dogtertjie in haar arms nog ’n paar soene.

Melissa en Nadia het saam met ouma Christa Roos al die pad – sowat 1 397 km – per trein Kaapstad toe gery, langer as 24 uur. Weens ekstra drukking wat op haar brein geplaas kan word, kon hulle nie met klein Nadya vlieg nie.

Meer inligting oor Nadya Roos is op die Facebook-blad “Hulpkreet vir Baba Nadya” beskikbaar.