“Sy is my liefde. Sy is my lewe,” vertel die 23-jarige enkelma Melissa Roos in hul gastehuis naby die Tygerberg-hospitaal, waar haar babatjie, Nadya (amper nege maande) behandel gaan word. Die dogtertjie is met ’n waterhoof gebore.

[caption id="attachment_156070" align="alignnone" width="600"]Foto: Skermgreep Foto: Skermgreep[/caption]

Soos die naam aandui, word dié toestand gekenmerk deur oormatige opeenhoping van vloeistof in die brein.

Dié sogenaamde “water op die brein” is eintlik serebrospinale vloeistof (SSV) – ’n helder vloeistof wat die brein en rugmurg omring. Die gevolg van ’n oormaat SSV is ’n abnormale vergroting van ruimtes in die brein genoem ventrikels. Dit oefen potensieel skadelike druk op die omliggende breinweefsel uit.

“Buiten haar koppie is sy perfek en pragtig,” vertel Melissa. Skanderings het ook getoon haar brein blyk normaal te wees. Klein Nadya kan nie genoeg van haar mamma se soene kry nie. As Melissa ophou, dan druk sy haar gesiggie teen ma se nek. Dan kyk ’n mens verby haar reusekop na die popmooi-gesiggie en veerfyn lyfie.

Toe ek haar vashou, versigtig met ’n hand onder haar kop met die dreineringspyp duidelik voelbaar, is dit opmerklik dat haar kop swaarder as haar lyf is. Sy weeg nou 10,1 kg. Die normale gewig van ’n baba op hierdie ouderdom is so 6,8 kg.

Waterhoofdigheid is by Nadya gediagnoseer toe haar ma 23 weke swanger was. Die een ná die ander ginekoloog in Pretoria, waar hulle in Waverley bly, het aan Melissa gesê dit sou beter wees om ’n aborsie te hê. Skanderings het getoon Nadya sou buiten die waterhoof met ’n lys ander probleme gebore word. Haar gesiggies ou kwansuis misvormd wees en sy sou lamgelê wees met spina bifida, waar die ruggraat nie ordentlik ontwikkel nie en daar openinge tussen werwels is. Een het selfs gesê: “Nie eens God sal haar kan help nie.”

Maar Melissa het vasgeskop. “Op 22 weke is dit moord,” glo sy vas. “En kyk nou hoe pragtig is sy. As dit nie vir die swaar kop was nie, sou sy al regop gesit het. Sy probeer gereeld om dit te doen,” vertel Melissa en gee die dogtertjie in haar arms nog ’n paar soene. Nadya kraai van genot. “Sy kan al ‘ouma’, ‘oupa’ en ‘mamma’ sê. En ook ‘love’ binnensmonds,” vertel ouma Christa Roos, wat versot is op haar heel eerste kleinkind.

Haar tandjies wat aan die uitkoms is, is duidelik sigbaar. “Kyk haar oogtandjies,” sê Melissa. “Sy is my klein vampier.”

Ouma Christa het saam met Melissa en Nadya die amper 1 400 km per trein Kaapstad toe gery. Dit het langer as 24 uur geduur. Weens ekstra drukking wat op haar brein geplaas kan word, kon hulle nie met klein Nadya vlieg nie.

“Ons het maar meestal in die kompartement gebly, maar daar was nou en dan nuuskieriges wat na Nadya kom loer het.” Ja, mense staar op straat na Nadya en van hulle “kom vra hoekom is haar koppie so groot,” sê Christa.

En was sy ooit spyt oor haar besluit om Nadya te hou? “Nie ’n minuut nie. Not ’n sokkie.”

* Meer inligting oor Nadya Roos is op die Facebook-blad “Hulpkreet vir Baba Nadya” te sien.