Aydin was ’n lekker groot babatjie: Sy was 58 cm lank en het 4,47kg geweeg. Eric en Nadya het beplan om ’n vreedsame, natuurlike watergeboorte by die huis te hê; Eric het selfs die regte bad vir die bevalling gebou. Ongelukkig moes hulle op die nippertjie kliniek toe gaan vir ’n noodkeiser. “Ten spyte van hoe dinge uitgedraai het, is ons dankbaar dat ons die opsie gehad het om ons dogtertjie op die veiligste manier moontlik in die wêreld in te bring. Elke kind kies sy eie manier om in die wêreld in te kom, so wie is ek nou om met die siel te stry wat so in die wêreld wou inkom?” sê Nadya.

“Ons het ’n wonderlike span gehad wat die geboorte steeds so kalm en rustig moontlik gemaak het. So selfs al was dit nie ’n tuisgeboorte of natuurlik nie, was dit steeds ’n geboorte wat met volle bewustheid beplan was. Ons kon ook steeds sekere elemente van ons tuisgeboorte inkorporeer. Ons het na rustige musiek geluister, ons altaar was in ons kamer opgestel en ons kon Aydin heel eerste op my bors tot ruste bring.

Die grootste nadeel van die proses is die gesond word ná die tyd. Normale geboorte is net soveel minder moeite en soveel vinniger,” vertel Nadya.

Sy voeg dadelik by toekomstige ouers moet onthou die mediese wetenskap is daar vir ’n rede. “Dit is ’n wonderlike gebeurtenis om normaal te kan kraam, maar as jy moet oorgaan na plan B, is dit nie minder spesiaal nie,” sê sy.

Eric en Nadya hou daarvan om so natuurlik moontlik te leef, en hulle pas die benadering ook toe in die grootmaak van hul kinders.

“Ek borsvoed en ons gebruik byvoorbeeld nie baie weggooidoeke nie, net wanneer ons uitgaan en gedurende die eerste maand, terwyl ons probeer balans kry. Dan gebruik ons ook net organies gesertifiseerde babaprodukte of homeopatiese opsies: oorpluisies, watte, wipes, ensovoorts, wat geen chemikalieë bevat nie. Ons gebruik ook nie produkte met ’n petroleum- of poeierbasis nie. Vir die meeste goed is daar natuurlike alternatiewe, maar omdat my dieet gesond is, het ons ook gewoonlik minder tierlantyntjies nodig,” sê Nadya.

Eric en Nadya het ook ’n vierjarige dogter, Erin, wat mal is oor haar nuwe sussie.

“Sy wil net soentjies uitdeel, liedjies sing en aan haar vat. En dink haar grootste konsternasie is dat haar sussie nie nou iets saam met haar kan doen nie. Sy wil so graag met haar speel,” lag Nadya.

- Suzanne Venter

Nege Maande