Die jongste peilings toon ‘The Don’ het beduidend veld verloor. Boonop is die media nou in die bombastiese biljoenêr se visier ná berigte dat hy toenemend nors en neerslagtig raak terwyl sy kanse op presidentskap oënskynlik vinnig verskraal.

In kenmerkende Trump-styl het hy onlangs laat hoor: “Dis nie ek teen skelm Hillary Clinton nie. Dis ek teen die skelm media.”

Intussen het die jongste nasionale peiling hom ook nie opgebeur nie. Volgens ’n gemiddelde syfer vir al die gesaghebbende Amerikaanse peilings loop Clinton, moontlik Amerika se eerste vroulike staatshoof, op dié tydstip voor met 45 persent teenoor 38 persent.

The Upshot, ’n Amerikaanse dataontledingsfirma, reken haar kanse om president te word, is nou 88 persent, vergeleke met net duskant 60 persent in Junie. Luidens die New York Times-artikel wat Trump nou weer so laat gal braak het, het mense in sy binnekring gesê weg uit die openbare kollig is hy dikwels bedruk en geneig tot buierigheid. “Hy is uitgeput en gefrustreerd” en steeds “verward” oor politieke prosesse.

Volgens Associated Press is Clinton in dié stadium ver genoeg voor in genoeg deelstate om haar die presidentskap te besorg. Daarenteen het haar teenstander nie die nodige voorsprong in die sleutelstate waar hy sal moet seëvier as hy die groot wedloop wil wen nie.

Amerikaanse ontleders reken sy onlangse misstappe en ander politieke verwikkelings kon Trump steun gekos het. Dit sluit in:

  • Sy bakleiery met die ouers van ’n Moslem-Amerikaanse soldaat wat in Irak gesneuwel het;
  • Sy suggestie dat Amerika se vurige vuurwapenregte-voorstanders Clinton kan keer, is plek-plek selfs vertolk as aansporing tot ’n sluipaanval op haar;
  • Hy het herhaaldelik gesê Barack Obama is “die stigter van die Islamitiese Staat”;
  • Lede van die Kennedy-familie het gesê sy “donker en aanstootlike retoriek” behoort hom as presidentskandidaat te diskwalifiseer;
  • Vyftig voormalige nasionale veiligheidsamptenare van die Republikeinse Party het verklaar hy sal die “roekeloosste president in die Amerikaanse geskiedenis wees”.
  • Intussen het die teenstand teen Trump in die Republikeinse establishment weer opgevlam. Sewentig invloedryke Republikeine het in ’n brief gevra geen verdere geld moet aan sy veldtog bestee word nie. “Ons glo hy saai verdeeldheid, is roekeloos en onbevoeg en skep die risiko dat dié verkiesing in ’n Demokratiese wegholsege gaan ontaard.”

Tog bestaan die siening ook dat Trump met onder meer ’n paar versigtig bewoorde toesprake weer sy veldtog op koers kan kry. En daardie peilings kan weer verander; politieke peilings is in elk geval nie onfeilbaar nie.

Dus, wie weet wat kan gebeur wanneer hy en Clinton mekaar einde aanstaande maand in debatte begin pak. In dié stadium lyk dit egter nog asof Amerika wel in November sy eerste vroulike president kan inhuldig.

Bronne: AP, AFP, New York Times, upshot.com, BBC, CNN