Sit jy elke jaar melk en koekies neer vir Kersvader? Of vertel jy jou kinders die man in die rooi pak bestaan nie regtig nie?

Fantasie en verbeelding is deel van ’n noodsaaklike ontwikkelingsfase vir kinders tot nege, sê Lize van der Merwe, ’n opvoedkundige sielkundige van Goodwood. Hierdie kinders sukkel nog met die begrip van abstrakte konsepte, vertel sy.

“Wanneer pappa soos Kersvader aantrek, help dit die verbeelding stimuleer,” sê Lize. “Ouers vra my soms wat hulle hul kinders moet vertel oor Kersvader. Tog dink ek nie dis nodig nie, want kinders besluit self daaroor wanneer hulle gereed is.”

Lize glo kinders is deesdae op ’n vroeë ouderdom al bewus van ernstige sake soos misdaad en geweld. “Dis nie sleg as jy hulle ’n bietjie langer klein hou met fantasieë oor die Tandemuis, Paashaas en Kersvader nie.”

Ons het ’n paar bekendes gevra wat hulle hul kleingoed oor Kersvader vertel.

Die model Minki van der Westhuizen en haar rugbyspeler-man, Ernst Joubert, aan Katerien (vyf maande): “Ons sal haar seker van Kersvader vertel, maar sy sal ook van die begin af leer ons vier die geboorte van Jesus en kan mekaar liefhê omdat God sy Seun na die wêreld gestuur het.”

Dr. Michael Mol van Hello Doctor aan Joshua (13), Rachael (10) en Naethan (5): “Baie van ons is te oud vir feeverhale, maar ook nie wys genoeg om dit as volwassenes te verstaan nie. Ek dink ons beroof ons kinders van iets spesiaal as ons hulle nie laat glo aan feeverhale nie. Hulle kan dan ook nie die waarheid uit ’n sprokie leer haal nie.

“Ek dink ouers moet met die Kersvader-mite hul kinders leer hulle moet liewer gee as vra en vrygewigheid en genade ervaar. Ons oudste twee kinders ken die waarheid oor Sint Nicolaas; hy was ’n vrygewige Christen wat vreemdelinge gehelp het. Tog geniet hulle die opwinding in ons jongste kind se oë, wat nog glo aan ’n vet, vriendelike man in rooi klere.”

Die sanger Elvis Blue en sy vrou, Chireze, aan Lali (3) en Jua (sewe maande): “Kinders kan deesdae maklik op hul eie die waarheid uitvind oor Kersvader. Wanneer ek sien hoe my klein meisietjie reageer op die liggies en die advertensies met die vriendelike man met die rooi hoed, besef ek sy ervaar hom as ’n fantasie. Al hou sy van hom, kan sy die verskil sien tussen ’n ware persoon en iets wat bestaan vir ons verbeelding en plesier.”

- Marelize Potgieter