Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het die virus sedert begin vanjaar 3 439 lewens in Afrika geëis.

“Ons het 11 hospitale aangewys wat pasiënte kan behandel wat deur Ebola geraak word,” het die woordvoerder Joe Maila gesê.

“As enigiets gebeur, en ons stel vas iemand het Ebola, kan ons hulle na daardie hospitale stuur.”

Die hospitale het afsonderingsale en beskermende klere.

Gauteng en die Oos-Kaap het elk twee hospitale geïdentifiseer, terwyl die oorblywende sewe provinsies elk een het.

Verlede maand het die gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, bewerings afgemaak dat die land nie gereed is om ’n Ebola-uitbreking te hanteer nie.

Hy het in antwoord op vrae in die nasionale vergadering daarop aangedring dat die hospitale en hul personeel ten volle toegerus is.

“Al die aangewese hospitale het riglyne oor virale hemorragiese koors en die Ebola-virus ontvang . . . oor alle aspekte van diagnose, afsondering, behandeling en selfs die bestuur van moontlike sterfgevalle weens Ebola,” het hy gesê.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het die virus sedert begin vanjaar 3 439 lewens in Wes-Afrika geëis.

Aaron sal na verwagting Vrydag ’n reaksiefonds vir Ebola bekendmaak.

Suid-Afrika rig die fonds op om hulpbronne van die sakegemeenskap te mobiliseer om die siekte te help beveg.