Astroloog

Laurie Naughtin (sublunar.co.za), ’n Johannesburgse astroloog:

Ek kan dadelik sê Maart sal nie vir Oscar voorspoedig wees nie. Hy gaan magteloos en siek voel en ’n streng program moet volg. Hy sal nie beheer oor sy lewe hê nie. Die regstelsel sowel as die media sal hom oordeel. Die media sal baie mag oor hom hê en dit kan die uitspraak vir hom benadeel. Dis ironies dat hy astrologies gesproke in Maart volwasse word. In sy astrologiese kaart is ’n terugkerende maan, wat elke 27 jaar gebeur. Dit sal hom help dat hy eindelik verhoudings op emosionele vlak kan verstaan en besef hoe belangrik sy houding teenoor ander is. Tog sal hy nou eerder deur sy emosies as verstand beheer word.

Oscar sal besef sy humeur is sy grootste struikelblok en dat gevangenisstraf ’n ernstige gevolg van ’n gewelddadige optrede kan wees. Daar is ’n ster in die hemel wat toon die hofsaak sal die gewelddadige moord ontbloot as ’n ongeluk: die optrede van ’n swak, trots persoon wat maklik sy humeur verloor; iemand wat gewelddadig en roekeloos kan raak wanneer hy gedruk word.

Oscar en ander se woorde sal stadig en sorgsaam ondersoek word. Sy emosionele gedrag en hoe sy swakhede hom beïnvloed, sal baie aandag kry. Hy besef hy gaan moontlik tronkstraf moet uitdien.

Numeroloë   

Priscilla Olivier (psychicpriscilla@wozaonline.co.za), ’n numeroloog en heldersiende medium van Durban:

Oscar is baie goedgemanierd, het ’n goeie verantwoordelikheidsin en is ernstig oor sy sport. In ’n verhouding is hy liefdevol en sorgsaam. Tog het hy ook ’n baie rebelse en onvoorspelbare kant. Hy kan baie koud en selfs emosieloos en wraaklustig voorkom. Hy verkies dat sy privaat lewe privaat bly en hou sy gedagtes geheim. Oscar sal, ongeag die uitspraak van die hofsaak, die volgende twee jaar ernstige uitdagings en stres ervaar. Ek voel dit sal ’n paar dae duur voor die uitspraak gelewer word. Oscar was verlede jaar in ’n liefdesborrel; daar wag uitdagings op hom.

Viviana Clark (vivianaclark.co.za), ’n numeroloog en heldersiende tarotkaart-leser van Johannesburg:

Oscar kan baie baasspelerig wees en wil dinge beheer. Hy is ’n nommer ses, dis die nommer van iemand wat mense baie goed kan leer of verkul. Hy is ook ’n nommer drie, ’n sjarmante persoon. Oscar kan die kluts kwytraak wanneer hy beheer verloor. Hy het ’n gewelddadige kant wat hy goed wegsteek.

Hy is in ’n goeie jaar van sy siklus. Dinge kan volgens sy sin verloop, soos sy geldsake. Hy sal nie vanjaar behoeftig wees nie.

Yvonne de Bruin (spiritualworld.co.za):

Oscar se geboortedatum, 22 November 1986, toon dryfkrag en vasberadenheid. Wanneer hy fokus en in beheer is, sal niks verhoed dat hy sy doelwit bereik nie. Maart sal baie moeilik wees vir Oscar en hy kan dalk ’n tipe senu-ineenstoring kry. Hy moet ook familiekwessies hanteer en mense ondersteun, en dit sal ekstra spanning op hom plaas. Hy sal sy gesondheid moet oppas, aangesien hy in Maart maklik siek kan word. Die hofsaak sal dalk nie vir hom volgens plan verloop nie en dit lyk asof verdere bewyse na vore sal kom, wat Oscar in ’n swakker lig sal plaas.

Oscar sal dalk die verkoop van ’n eiendom en van groot, waardevolle items moet hanteer. Familie of vriende wat oorsee woon, sal hom besoek en ondersteun. Iemand sal hom ’n werk aanbied wat baie mense se lewe sal verryk. Hy sal waarskynlik eers later daarmee gemoeid raak, wanneer die hof oor sy toekoms besluit het. Sy werk kan dalk behels dat hy mense leer of ’n mentor is vir ander gestremdes en hulle leiding gee oor die struikelblokke in die sportbedryf.