2 November 2016 was net soos enige ander dag in die Papini-huishouding. Keith Papini was by die werk, die kinders by hul dagsorgsentrum en Sherri sou soos gewoonlik vir ’n laatoggend-draf gaan. Maar Sherri het nooit by die sentrum opgedaag om hul kinders, ’n vierjarige dogtertjie en tweejarige seuntjie, soos gewoonlik te gaan haal nie.

Keith het die “Find my iPhone”-app ingespan om Sherri te probeer opspoor. Dit het haar selfoon se posisie as naby die kruising van Old Oregon Trail en Sunrise Drive in Redding aangegee. Maar sy was nie daar nie. Volgens ’n ooggetuie is Sherri laas om tweeuur die middag in ’n pienk oefentoppie gesien. Toe daar teen die aand se kant nog geen taal of tyding is nie, is sy as vermis by die polisie aangegee. ’n Uitgebreide soektog is van stapel gestuur. Die gemeenskap van Redding het kragte saamgesnoer en op verskeie platforms is pleidooie gerig vir enige inligting wat kan help om iemand wat as ’n “superma” bestempel is, te help opspoor.

Al wat tot op 11 November gevind is, was haar selfoon, oorfone en ’n paar haarstringe. Keith sê hy is oortuig daarvan sy vrou is ontvoer. “Sy’s my vrou en ek weet alles van haar af. Ek weet my vrou sal my nooit verlaat nie en nooit in ’n miljoen jaar ons kinders los nie,” het hy gesê. Vir Keith en Sherri se suster, Sheila Koester, het die hoop met elke uur wat verbygaan vervaag. “Dit wissel van dag tot dag. Ek’s woedend een dag, hartseer die volgende dag. Dan voel ek weer oukei. Die volgende dag voel ek weer skuldig juis omdat ek oukei voel,” het sy tydens ’n onderhoud aan The Sacramento Bee gesê.

In ’n stadium het die fokus van verdenking na Keith verskuif. Maar hulle het geen fisieke getuienis gevind om hom met Sherri se verdwyning te verbind nie. Hy was inskiklik, het alle moontlike inligting verskaf en selfs ’n leuenverklikkertoets geslaag.
Sheriff Tom Bosenko het na afloop daarvan gesê dit kom voor asof hy die waarheid praat.
Intussen is ’n beloning van $50 000 uitgeloof vir inligting wat kon help om Sherri te vind.
In ’n stadium het ’n onbekende mens na vore gekom met ’n losprys en die dienste van ’n internasionale gyselaar-onderhandelaar is bekom in nog ’n desperate poging om Sherri op te spoor.
Die inwoners van Redding het byeengekom en tientalle geel ballonne vrygelaat.

Op 24 November, Thanksgiving, het die nuus bekend geword: Sherri Papini is gevind. En sy lewe!

Die Shasta County-polisiekantoor is omstreeks halfvyf daardie oggend in kennis gestel dat Sherri langs ’n landelike roete, ongeveer 240 km van haar tuiste, gevind is. Haar ontvoerders het dit waarmee sy in die voertuig vasgebind was, losgesny, die deur oopgemaak en haar uit die motor gestoot. Sy het beserings gehad en was nog vasgebind, maar kon daarin slaag om ’n verbygaande motoris se aandag te trek. Sherri het so hard om hulp geroep; sy het bloed begin hoes. Volgens Keith het Sherri se ontvoerders haar vasgeketting, maar sy het een hand vry gehad. Die metaalketting was om haar middel en sy het ’n sak oor haar kop gehad. Sy’s elke keer vasgeketting wanneer sy in die voertuig was. Hier is Keith se eksklusiewe onderhoud met Good Morning America. Tydens die onderhoud kom dit na vore dat Sherri kneusmerke aan haar gesig gehad het. Ook haar blonde hare is afgesny.

Haar suster, Sheila, het die media toegespreek nadat Sherri gevind is. Sy het almal versoek om hul privaatheid te respekteer.

Sheriff Bosenko wou nie veel inligting bekend maak nie. “Sensitiewe inligting word nog in hierdie stadium van die publiek weerhou,” het hy gesê. Wat hy wel bekendgemaak het, is dat Sherri êrens op haar lyf ’n brandmerk “met ’n boodskap” van haar ontvoerders ontvang het.

Die verdagtes is waarskynlik twee Spaanse vroue in ’n donkerkleurige sportnutsvoertuig. Hulle word as gewapen en gevaarlik bestempel.

Was Sherri dalk net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd? Of skuil daar iets meer duister aan die ontvoering van ’n jong ma wat drie weke lank van haar kinders en man weggeruk is?

Die vrae hou nie op nie . . .

Bronne: washingtonpost.com, latimes.com, sacbee.com, insideedition.com, redding.com