DIE wêreld wag met ingehoue asem vir ’n sprokiestroue noudat prins William en Kate Middleton aangekondig het hul groot dag sal op 29 April aanstaande jaar wees. Maar wanneer hulle dan in Westminsterabdy in Londen ewige trou aan mekaar beloof, sal menige toeskouer wel wonder: Sal hierdie huwelik hou?

En dit sal ook nie oormatig sinies wees nie, want feitlik al die Britse koninklike huwelike het die afgelope dekades op skandale en egskeidings uitgeloop.

William se ouers, Charles en Diana, is in 1992 ná 15 jaar geskei nadat hulle jare lank afsonderlike lewens gelei het. Charles se jonger broer Andrew en Sarah Ferguson het ná net ses jaar aangekondig hul paadjies loop uitmekaar, en is toe vier jaar later geskei.

Ook koningin Elizabeth se enigste dogter, Anne, is ná jare van Mark Phillips geskei. En die koningin se suster, prinses Margaret, se ongelukkige huwelik met Antony Armstong-Jones het ook in die skeihof beland. Net Charles se broer Edward en Sophie – soos Kate ’n meisie uit die Britse burgerstand -- se huwelik hou nog. Hulle is in 1999 getroud.

Daarom kan niemand vir Peter Broadbent, ’n biskop van ’n dorpie naby Londen, verkwalik vir wat hy onomwonde op Facebook voorspel het nie: “Ek gee hierdie huwelik sewe jaar.’’

Kate en William is oppervlakkige glansmense en die koninklike familie ’n klomp rokjagters. Die troue is ’n nasionale oëverblindery en walglike nonsens’’, het hy bitterbek laat hoor.

Gelukkig, sê hy, kon hy Grootoor en die Porseleinpoppie (Charles en Diana) se huwelik destyds misloop. Hierdie keer wil hy op die troudag eerder in Calais, Frankryk, partytjie gaan hou.

Soveel druk is toe op die biskop toegepas uit die Kerk van Engeland, waarvan die koningin die hoof is, dat hy nou nederig om verskoning gevra het vir sy uitlatings. Hy het selfs vir Kate en William ’n lang en gelukkige huwelik toegewens.

Maar was hy nie dalk reg nie?

Hoe lank gáán die twee se huwelik hou?

Lees wat die sterre voorspel vir William en Kate in die Huisgenoot van 2 Desember 2010