Dr. Heinrich Bohlmann, senior dosent in ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, sê die swak vertoning van die aandelemark die afgelope week kan toegeskryf word aan die toename in steun vir Trump in meningspeilings.

“Dit beteken dit is in die markte se guns as (die Demokratiese kandidaat, Hillary) Clinton wen. Waarom? Kortom: Daar is op kort termyn baie meer onsekerheid oor beleide met ’n Trump-presidentskap as met ’n Clinton-presidentskap.” En volgens Heinrich hou die finansiële markte nie van onsekerheid nie omdat dit groter risiko’s tot gevolg het.

Lees ook: Waarom hou mense nie van Hillary Clinton nie?

Die rand het Maandag versterk nadat die FBI in Amerika aangekondig het dat Clinton nie vervolg gaan word ná die ondersoek na haar gebruik van ’n privaat e-posbediener nie, berig Netwerk24. Ook die JSE en ander ontluikende markte het verstewig ná die aankondiging.

Maar hoe sal die uitslag van die verkiesing Suid-Afrikaners se sak raak?

“Op kort termyn sal dit net mense raak wat rykdom in en blootstelling aan die aandelemark het. Op lang termyn hang dit af wie wen,” verduidelik Heinrich.

Volgens Heinrich sal die finansiële markte herstel as Clinton die verkiesing wen. Maar as Trump koning kraai, verwag Heinrich ’n soortgelyke reaksie van die markte as tydens die Brexit-referendum. Brittanje se besluit vroeër vanjaar om die Europese Unie te verlaat het ontleders en politici onkant betrap en onsekerheid in die wêreld se finansiële en handelsmarkte veroorsaak, berig Netwerk24.

Lees ook: Kan Hillary Clinton se e-pos-dilemma haar kanse op die presidentskap kelder?

“As Clinton wen, moet Suid-Afrikaners nie enige drastiese verandering verwag nie, want haar ekonomiese beleidsrigtings en idees oor buitelandse beleid is amper dieselfde as (pres. Barack) Obama s’n. As Trump wen, is dit vir enigiemand ’n raaiskoot omdat sy ekonomiese en buitelandse beleide baie vaag is.”

Maar Heinrich sê Suid-Afrikaners moenie staatmaak op wie die leier van Amerika is om hul fortuin te bepaal nie. “Ons moet liewer daarop konsentreer om (ons eie) goeie leiers te kies,” meen hy.