Ons universiteite loop deur onder geweld omdat talle studente op gratis onderrig aandring. Maar wat presies gaan aan? Huisgenoot-joernalis Richard van Rensburg het met Theo Venter, politieke ontleder en universiteitskenner van die Noordwes-Universiteit (NWU), gepraat. Hy het die volgende vrae vir ons beantwoord: Vanwaar die hewige reaksie en hoe ernstig is die situasie? “Ons sien hier die frustrasie van studente wat al sedert verlede jaar se Fees Must Fall-protes op 'n antwoord van die regering wag. Die regering het foute gemaak met hul hantering daarvan, en ons pluk nou die vrugte.”

Waar het die regering foute gemaak?

Universiteite se outonomie is “vertrap” deurdat die president besluit het daar sou geen fooiverhogings wees nie. Vanjaar mag die universiteite egter self besluit. “Dit voel dus vir my of universiteite vir die wolwe gegooi word,” sê Theo. Lees ook: #KAMPUSGEWELD - 12 punte om #FeesMustFall beter te verstaan Hoe diep in die moeilikheid is ons universiteite? Studente wat wil leer en eksamen skryf en ouers wie se kinders aanstaande jaar moet gaan studeer, is uiteraard diep bekommerd.

“Ons moet baie versigtig wees. As jy in die middel van 'n stroomversnelling staan, lyk sake soms ewe erg na watter kant toe jy ook al kyk. Maar ons universiteite het sulke situasies in die verlede oorleef.” Waarom die geweld, waarom word goed afgebrand? “Een van die kenmerke van universiteite in ontwikkelende samelewings is juis dat dit die plek is waar gedagtes ontwikel en standpunte uitgedaag word. Dit gaan soms gepaard met geweld en skade aan kardinale instellings soos biblioteke,” sê Theo. Dat mens wil afbreek, is vir baie mense sonder logika: “Dis egter 'n kenmerk van dié soort prosesse wêreldwyd".

Hoe lank gaan die onrus voortduur?

Kampusse betree stellig nou weer 'n moeilike fase vir die volgende maand of wat, totdat eksamens begin en die werklikheid deurdring dat as studente nie gaan skryf nie, hulle bloot nie gaan deurkom nie.

Wat gaan die situasie red of dinge verander?

1. Een van die volgende belangrikste gebeure is in Oktober wanneer Pravin Gordhan, minister van finansies, in die middeltermyn-begroting sal sê of daar nog geld is vir die universiteite;

2. Die verwagte aanbevelings van die kommissie van ondersoek na die befondsing van hoër onderrig en opleiding aanstaande jaar. Hul taak is om langtermynmaatreëls voor te stel om ook Suid-Afrikaners uit arm en werkersklasgesinne toegang tot hoër onderwys te help kry.

3. Duidelikheid oor pres. Jacob Zuma se politieke toekoms.

Kry ons universiteite genoeg geld van die staat?

Ná alles bly die hoofsaak egter dat ons universiteite totaal onderbefonds is.

“Ons moet dus 'n deeglik nasionale standpunt ontwikkel oor hoe studente opgelei moet word: wil ons hê ouers of belastingbetalers moet betaal? Maar êrens gaan iemand betaal, want daar bestaan eenvoudig nie iets soos gratis hoër onderwys nie.”