In ’n artikel in die Sunday Times meen die sielkundige Leonard Carr Oscar se getuienis het ons “ ’n onverwags huilerige, wanhopige stem laat hoor... Dis ’n ou, wanhopige gehuil wat teruggaan na ’n vroeëre lewe van kwaai liggaamlike en emosionele trauma en verwerping.”

Tog sê Leonard daar was ook ’n “driftige kreun” wat soms “dramaties kon bars soos ’n ballon”, maar dan weer beheer is sodat dit “gelek (het). . . soos die opening van ’n ballon wat vasgedruk word”.

Leonard het Oscar vergelyk met die Wizard of Oz, wat die “wêreld oortuig het van die betowerde beeld wat hy van sy geïdealiseerde self voorgehou het; hoe hy wens dit kon wees”.

’n Rubriek in die Sunday Times het Oscar se saak vergelyk met verskeie Griekse mites, onder meer dié van Ikarus, wat met vlerke wat deur was aanmekaargehou is, te na aan die son gevlieg en hom doodgeval het, en Prometeus, wat gestraf is nadat hy die gode se vuur gesteel het. “Bedags het ’n arend sy lewer gevreet; snags het dit weer gegroei.”

Die skrywer meen die model Reeva se skietdood aan Oscar se hand “oorskadu die mite van Leda en die swaan”.

In dié godeverhaal neem Zeus die vorm van ’n swaan aan sodat hy Leda kan verkrag. In sommige weergawes het Leda twee eiers gelê waaruit kinders uitgebroei het.

Ander regsmenings

Die koerante het ook regsmenings ingewin oor die sukses van die staatsaanklaer Gerrie Nel se kruisondervraging van Oscar, wat verlede Maandag begin het. Oscar staan tereg op aanklag van moord nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n toiletdeur geskiet het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Die Kaapse prokureur William Booth sê Oscar “het homself geen guns onder kruisondervraging bewys nie”.

Hy meen Oscar het moontlik afgewyk van wat sy regspan beplan het hy moet sê.

Dalk het Oscar “die soort persoonlikheid wat ’n prokureur se grootste kopseer is... Met al daardie voorbereiding is dit moontlik dat sy span inderdaad te doen het met ’n baie moeilike mens wat glo dit wat hy sê, is reg,” sê William.

’n Strafreg-dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand, Steve Tuson, het aan City Press gesê Gerrie was besig om “aan (Oscar se weergawe van die gebeure) te knaag.

Hy wys verskeie klein teenstrydighede uit. Gerrie gaan aanvoer dat Oscar onbetroubaar is wat hierdie klein sakies betref; daarom kan hy nie geglo word wanneer die hoofsaak, of hy geweet het Reeva was agter die deur, ter sake kom nie.”

Ulrich Roux van BDK Attorneys het aan die Sunday Independent gesê Oscar se antwoorde aan Gerrie bring hom net dieper in die moeilikheid.

“Oscar het nie gedoen wat nodig was om vas te stel wie agter die deur was nie, en of sy of Reeva se lewe in gevaar was nie.”

Volgens Ulrich het Oscar se oënskynlike blaamverskuiwing “ ’n slegte smaak nagelaat; ek dink dis lafhartig. Dit gaan hom in die moeilikheid bring; daaraan twyfel ek glad nie.”

Oscar se verhoor word vandag voortgesit.

- Sapa