Die akteur Jan Ellis het baie ervaring opgedoen met hierdie rol, eers in die teaterproduksie Fiela se Kind, waar hy die jong Benjamin gespeel het, en later in die fliekweergawe deur Katinka Heyns.

Sedertdien was hy een van die gewildste akteurs op die verhoog. Hy het ook gesig gewys as Frikkie in die Hollywood-fliek After the Rain, met The Da Vinci Code se Paul Bettany in die hoofrol.

[caption id="attachment_151703" align="alignnone" width="600"]Jan Ellis Jan Ellis (Foto: Verskaf)[/caption]

Later het hy Nollie gespeel in Katinka en haar man, Chris Barnard, se fliek Paljas (1997), wat daardie jaar Suid-Afrika se inskrywing was vir ’n Oscar.

In 2001 het hy die hoofrol van Gerrit Wolfaardt vertolk in die fliek Final Solution.

Op TV was hy onder meer in die gewilde Mannakwalanners, Torings, Egoli, Backstage, Isidingo, Villa Rosa, Amalia en Binnelanders te sien.

In 2007 is Jan Australië toe en het hy hom begin toespits op die digitalemedia-bedryf. Hy wil ook by ál meer dokumentêre flieks betrokke raak. Hy het al twee van sy eie gemaak: The Farm en The Unknown Surfer.

Die akteur het ook in Japan Engels-klasse gegee, daar in ’n toneelstuk gespeel, sy swart belt in judo verwerf en 100 dae in ’n Zen-klooster deurgebring.

Hy vertel eksklusief uit Australië via e-pos meer oor sy lewe as eggenoot en pa Doer Onder:

Julle bly mos op ’n eiland, as ek dit reg het? Vertel meer?

’n Groot eiland, Australië. Ons is baie lief vir ons buurt, Maroubra in Suid-Sydney. Dit het ’n uitsig oor die baai, die stad en in die verte die Blue Mountains.

Hoe oud is jy nou? Jou dogter? Jou vrou? En hoe lank is julle getroud?

Ek is 43 en gryser, maar met minder hare. Ek is meer bedonnerd, maar aan die gang. Nelia is drie en ’n half. My vrou is ewig jonk en hulle twee is my inspirasie.

[caption id="attachment_151682" align="alignnone" width="600"]Jan Ellis en gesin (Foto's: Verskaf) Jan saam met sy vrou, Gualdina, en dogter, Nelia. (Foto: Verskaf)[/caption]

Hoe het jou dogter jou lewe verander?

Soos handomkeer.

Wat aan haar maak jou die gelukkigste; goedjies wat sy doen of sê?

Die gees wat sy by haar ma geërf het. Sy sê: “Let’s doo-dis like boo-dists!”

[caption id="attachment_151782" align="alignnone" width="600"]Nelia is nou drie en ’n half jaar oud. (Foto: Verskaf) Nelia is nou drie en ’n half jaar oud. (Foto: Verskaf)[/caption]

Hoe voel dit om pa te wees?

Soos jou belangrikste, moeilikste en vervullendste job ooit. Alles anders is tweede op die lys.

Is jy nog ’n kranige branderblankryer?

Ek surf soveel ek kan by my local spots en so dan en wan op ’n trip na iewers met spesiale waves en boesemvriende. Weskus, Ooskus, Transkei, Indo, Japan, Aus, Samoa, Madagaskar. Fidji binnekort. Surfing was nooit iets waarvoor ek enige natuurlike talent gehad het nie, maar aanhou probeer het my vele onvergeelike oomblikke laat beleef. Jy is altyd op soek na die wave van jou lewe.

[caption id="attachment_151700" align="alignnone" width="600"]Surf Jan was nog altyd passievol oor branderplankry. (Foto's: Verskaf)[/caption]

So af en toe duik ’n foto van ’n DVD van Fiela se Kind op jou Facebook-blad op. Hoe voel jy daaroor dat jy in baie mense se oë seker altyd Fiela se kind gaan wees?

Om deel te wees van iets wat mense so lank onthou is ’n voorreg. En om op so ’n jong ouderdom so iets te ervaar was ’n groot geskenk. Nie net die fliek nie; ook die verhoogstuk voor dit. Om Saterdagoggende skolerugby te speel en dan twee shows van Fiela te doen in ’n volgepakte Nico Malan-teater was next level.

Het jy nog kontak met die akteurs uit daardie fliek?

Ek dink ons sal almal vir altyd in mekaar se gedagtes wees. Daar is verskeie teenoor wie ek ewig dankbaar sal wees vir die beskerming en vroeë lewenslesse . . . die spelers, die crew, Katinka. Oom Chris ook.

Op watter ander flieks en TV-programme is jy baie trots?

Die verhoog is waar dit alles begin het en ek is trots dat ek daar en voor die kamera met die beste van hul tyd kon saamwerk. Om jou naam te sien langs al daai akteurs, regisseurs, skrywers, tegnici en vervaardigers is genoeg om te voel jy’t sekerlik orraait gedoen. Dis ’n kleurvolle wêreld, al die kollegas, mentors . . . die professionele en geestesverhoudings kan niemand ooit wegneem nie. Een het my eendag herinner die effek wat jy op mense om jou het, is veel belangriker as jou persoonlike sukses. Dit vat ’n mens lank om te leer om op dié pad te bly. Die skryfwerk was ook baie na aan my hart.

[caption id="attachment_151723" align="alignnone" width="600"]Jan se 'kantoor'. Jan se 'kantoor'. (Foto's: Verskaf)[/caption]

Met watter projekte was jy die afgelope vyf tot ses jaar besig?

Ek was gereed en vasbeslote om iets anders te probeer toe ons Australië toe trek. Ek het met kameras en redigering begin, maar die een ding lei toe na ’n ander en op die een of ander manier het ek ’n video-ingenieur en nou tegniese regisseur in die uitsaaiwese geword. Sedert 2009 het my werk my na verskeie stede geneem. Barcelona, Madrid, Rome, Singapoer, Chicago, die stad Washington, San Francisco, New York, Las Vegas. My verhoogervaring het baie gehelp om die druk van ’n regstreekste uitsending te hanteer. Jy kry net een kans. Daar’s baie adrenalien.

Hoe gereeld kom julle Suid-Afrika toe en wat is die lekkerste hier?

Ons probeer dit eenkeer in 18 maande doen. Alles, maar familie en vriende en om Nelia met hulle te deel is koning. En my geliefde Weskus. En Onrus. En die Kei.

Wat mis jy die meeste?

Dieselfde antwoord as die vorige vraag.

Is julle deel van ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap daar in Australië?

Ons “Saffas” is redelik volop. ’n Mens hoor baie “Jaa” en “Haazit”. Maar Sydney is ’n kosmopolitaanse stad. Ons is almal Sydney-siders.

Wat kan ons by Australiërs leer?

Ons kan baie by mekaar leer. Ons deel ’n soort post-koloniale hardekwasgeit, maar ons humorsin verskil nogal. Ek is ewe trots daarop om ’n Suid-Afrikaner en ’n Aussie te wees. As dit kom by sport . . . Ek dink nie daar is enige twyfel oor waar my hart lê nie. Ai, ek het lank laas so lekkergekry soos met die Proteas se derde toetsreekssege in Australië in ’n ry! Gewoonlik het die Aussie krieket-etablishment baie om te sê, maar hulle was tjoepstil. En ek treur saam oor die arme Bokke se rillerjaar, maar ek glo die wiel draai. Ek dink tog die Aussies het ’n ekstra bietjie meedoënloosheid in alles wat hulle aanpak. Mededinging is straf hier, so jy moet elke dag uithaal en wys as jy kop bo water wil hou.

Reis jy baie deur die land? En die res van die wêreld?

Gereeld. Meestal vir werk, maar soms vir vakansie.

Praat jy al met ’n aksent?

Blykbaar. Dis nie doelbewus nie.

Hoe sou jy dit wat jy in Australië leer in Suid-Afrika kon terugploeg?

Dit sou voorbarig wees om te dink ek het iets om by te dra. Miskien kan ek eendag weer betrokke raak by “stories maak”. Daar is soveel ou kennisse met wie ek graag weer sou wou saamwerk en leer en my bydrae verbeter.

As jy ’n draaiboek kon skryf en ’n Afrikaanse fliek kon maak, wat sou die titel wees en waaroor sou dit handel?

Daar is ’n eerste draft van ’n teks, maar dit lê op die oomblik by my suster, Shirley. Wanneer sy dit gelees het sal ons verder dink oor wat volgende.

[caption id="attachment_151733" align="alignnone" width="600"]Die eiland-lewe. Die eiland-lewe. (Foto's: Verskaf)[/caption]

As jy ’n Hollywood-fliek kon maak, waaroor sou dit gaan?

Ek het nie regtig ’n behoefte daaraan om ’n Hollywood-fliek te maak nie, maar as die kaarte reg val en ek beland in een . . .Ek sal nie sommer nee sê nie.

Sal jy weer vir goed wou terugkom?

Daar gaan nie ’n dag verby dat ons nie wik en weeg nie. My vrou en kind se saligheid troef alles, so as ons dit die een of ander tyd kan laat werk, beslis.

Watter boodskap sou jy vir Suid-Afrikaners wou stuur hier oor die feesgety?

Asseblief, ry veilig. Wees eerder laat as om nooit op te daag nie.

  • Besoek Jan Ellis se webtuiste, jgellis.com, waar jy ook na sy kortfliek The Unknown Surfer kan kyk.