The Telegraph van Engeland berig dat Lubitz verloof was. Hy sou glo aanstaande jaar sou trou maar die verlowing is onlangs verbreek. Die vermoede bestaan dat die 28-jarige man gesukkel het om die mislukte verhouding te verwerk.

Dié teorie is openbaar gemaak ’n paar uur nadat die polisie gesê het dat hulle “iets beduidends“ ontdek het by sy huis.

Markus Niesczery van die Düsseldorfse polisie het aan die Daily Mail gesê: “Ons het die plek (Lubitz se huis) deursoek om te kyk of ons nie iets kon kry wat die gebeure kon verduidelik nie.”

“Ons het wel iets gevind en dit sal nou getoets word. Op die oomblik kan ons nie sê wat dit is nie, maar dit kan ’n baie betekenisvolle leidraad verskaf oor wat gebeur het."

Die plaaslike owerhede het egter geen verdere besonderhede bekendgemaak nie. Daar word aangeneem dat hulle bevestig het dat dit nie ’n selfdoodbrief was nie.

Speurders het ook Lubitz se woonstel in ’n weelderige drieverdiepinggebou in ’n Düsseldorfse rykmansbuurt deursoek.

Volgens die aanklaers het Lubitz die passasiersvliegtuig, met 150 passasiers aan boord, doelbewus laat neerstort. Daar was geen oorlewendes nie.

Brice Robin, aanklaer van Marseilles, het gesê die 28-jarige man het die vliegtuig Dinsdag “opsetlik“ laat neerstort. Hy het ook die kaptein uit die stuurkajuit uitgesluit.

Lubitz het in September 2013 by Germanwings aangesluit en voor die rampvlug het hy ongeveer 630 vliegure agter die rug gehad. Volgens die London Telegraph het Lubits by Germanwings aangesluit pas nadat hy sy opleiding aan die Lufthansa Vliegopleidingskool voltooi het.

Volgens Thomas Winkelmann, besturende direkteur van Greenwings, was daar niks ongewoons tydens Lubig se opleidingstermyn nie.

Volgende die Duitse dagblad Bild het Andreas Lubitz 'n jaar en ses maande psigiatriese behandeling ontvang. Alle verbandhoudende dokumente sal aan die Franse ondersoekspan oorhandig word ná dit deur die Duitse owerhede ondersoek is.

Lufthansa se hoof uitvoerende beampte Carsten Spohr het tydens 'n nuuskonferensie genoem dat Lubitz vir 'n tyd nie gewerk het nie, maar het nie verduidelik hoekom nie. Hy het gesê die medevlieënier het alle toetse geslaag en was geskik om te vlieg.

"Sy vliegvermoëns was foutloos"

Bronne: Daily Mirror, The Telegraph, Sapa