WANNEER ek nuwe mense ontmoet en vir hulle vertel ek werk vir Huisgenoot, kry ek áltyd twee vrae: Wie is die grootste celeb wat jy al ontmoet het? Wat was jou gunstelingstorie tot dusver?

Nou die probleem daarmee is: Met eersgenoemde is die beroemdheid van ’n celeb mos baie subjektief en afhangend van jou smaak . Wat laasgenoemde betref, is my gunstelingstories gewoonlik dié waar ek na verre lande kon reis en daardie soort lewer nie noodwendig stories op wat vir ander mense interessant is nie.

Ek dink dan altyd stilletjies aan die vraag wat ’n mens eintlik vir ’n Huisgenoot-joernalis moet vra: Wat is die vreemdste ding wat jy al ter wille van ’n storie aangevang het?

Want ek kan jou belowe, ons het al  álmal iets gedoen wat ons waarskynlik nie wil oorvertel nie. Die oomblik wanneer jy voor die besluit staan of jy dit moet doen of nie, skree jou binneste nee, maar jou joernalistieke instink maan kliphard ja. Dis mos ter wille van ’n goeie storie. Ons doen dit mos vir ons lesers.

So het ek byvoorbeeld onlangs Joost van der Westhuizen se omstrede terapeut, Anton Neethling, in sy “kliniek” besoek. Toe hy my vra vir ’n urienmonster sodat hy met sy druppeltjies en masjiene kan toets of my liggaam “in balans” is, wou ek natuurlik dadelik nee sê. Maar daardie stemmetjie waarmee alle joernaliste gebore word, het wou geen verskoning aanvaar nie.

Nou, dis een ding wanneer jou dokter vra vir ’n monster wat mooi verpak is in ’n botteltjie wat dadelik weggestuur word, en ’n heel ander ding wanneer iemand reg voor jou kom staan, die monster aandagtig bestudeer en dit dan druppeltjie vir druppeltjie ontleed – dit  alles terwyl ’n Huisgenoot-fotograaf die gedoente op film vaslê. Laat ek dit maar net so stel: ‘n Besoek aan die ginekoloog gaan nooit weer vir my intimiderend wees nie.

[caption id="attachment_52829" align="alignnone" width="600"]Alet en Anton Neethling. Alet is glad nie geneë om die foto's van haar 'monsters' te wys nie! Alet en Anton Neethling. Alet was glad nie geneë om die foto's van haar 'monsters' te wys nie![/caption]

Kollega Danél Blaauw het twee dae lank van kokosneute geleef en op ’n handdoek in nat klere op die strand geslaap om te voel hoe dit voel om ’n Survivor-deelnemer te wees.

[caption id="attachment_52830" align="alignnone" width="600"]Danél aan die spook in Survivor. Dis sy daar met die skouerlengte blonde hare. Danél aan die spook in Survivor. Dis sy daar met die skouerlengte blonde hare.[/caption]

En Pieter van Zyl, ‘n Kaapse kollega, het op sy beurt ’n uur lank in ’n gat in die grond opgekrul om ’n idee te kry van wat ’n seksslaaf deurgemaak het oor wie hy verslag gedoen het. Die tienermeisie is 18 maande lank in die gat van sowat 2 by 2 meter in die Hemel en Aarde-vallei tussen Caledon en Hermanus aangehou. Hy sal nooit weet hoe sy werklik gevoel het nie, maar hy het beslis sy bes gedoen om vir lesers die akkuraatse prentjie moontlik te gee.

’n Ander keer moes Pieter ’n artikel skryf oor hoe ’n mens kan ophou rook. Sy opdrag was om sy rookgewoonte met ’n stokperdjie te vervang. Die uiteinde: Hy’t in die daaropvolgende weke vir almal op kantoor se kinders ’n laslapkombersie gebrei.

Toe daar verlede jaar wyd in die nuus berig is oor mense wat hul kinders en honde aspris in hul warm motors toesluit wanneer hul gaan inkopies doen, moes nóg ‘n Kaapse kollega, Petro-Anne Vlok, dit aan haarself doen. Sy het byna ’n uur lank in ’n warm motor in die son gebak. “Dit was die ergste ding ooit,” sê Petro-Anne. “Ná 40 minute was dit warmer as 65 grade Celsius.”

[caption id="attachment_52831" align="alignnone" width="600"]Petro-Anne voor, tydens en na haar warmmotor-eksperiment. Petro-Anne voor, tydens en na haar warmmotor-eksperiment.[/caption]

Die stomme Petro-Anne kry so baie opdrag om soortgelyke eksperimente uit te voer dat ons haar al Huisgenoot se inwonende proefkonyn noem.  Amper nét so erg, sê sy, was die keer toe sy ’n uitmergelende dieet moes uittoets. Sy kon baie min eet, moes elke dag 20 ballonne opblaas om haar maagspiere te oefen en elke oggend in ’n yskoue bad lê om haar metabolisme te versnel. Sy’t nie ’n enkele kilogram verloor nie en boonop was dit in die hartjie van die winter!

Die uiteinde van al hierdie vreemde ervarings wat Huisgenoot-joernaliste deurmaak is dat bitter min dinge in die lewe nog vir ons snaaks of vreemd is. Soos kollega Jaco Hough-Coetzee, wat al langer vier jaar hier werk, sê: “Nee wat, ek’t nie ’n vreemde storie vir jou nie. Niks is meer vir my snaaks nie.”

- Alet van Zyl

Lees Alet van Zyl se artikel oor haar besoek aan dr. Anton Neethling in die Huisgenoot wat nou te koop is met Wilna Snyman op die voorblad.

Lees ons ander agter-die-Huisgenoot-skerms-blogs:

Prag en praal by ‘koninklike’ troue

Oeps . . . ’Skies, Amanda!

Hille hou voute yt Hysgenoot

Welkom by Huisgenoot!