“Ek het nie my sussie geslaan nie!” “Ek weet nie wie die hond geverf het nie. . .” Of dit ’n wit leuentjie is, en of die waarheid verbloem word, alle kinders jok soms om uit ongemaklike situasies te kom. Maar wanneer kan jy daaroor lag, en wanneer moet jy bekommerd raak dat jou tiener in ’n oneerlike volwassene verander en ander hulle gaan wantrou?

Is dit skadeloos wanneer kleuters jok?

Kleintjies jok; soms word die grense tussen hul verbeelding en die werklikheid ’n bietjie verdof. Ouers raak dikwels ontsteld daaroor, maar dis nie nodig nie. Dit is die perfekte geleentheid om jou kind sagkens te korrigeer en oor morele gedrag te leer. Maak eerstens seker jou kind kan onderskei tussen werklikheid en fantasie, en vind dan uit hoekom hulle gejok het. Moenie ontsteld raak en hulle straf nie; dit sal hulle huiwerig maak om die waarheid te vertel. As jy in die kombuis stap en ’n stukkende glas kry, moenie gil en aantygings maak nie soos: “Hierdie glas is stukkend; het jy dit gedoen?” Sê eerder: “Hierdie glas is stukkend; weet jy hoe dit gebeur het?”

Hoekom jok ouer kinders?

Wanneer jou kind effe ouer is en die gevolge van oneerlikheid verstaan, verander die redes hoekom hulle jok. Jonger kinders (tussen ses en agt jaar oud) sal nog jok om aandag te kry. Hulle sal ook jok om iemand se gevoelens te spaar omdat ouers dikwels aan hul kinders die boodskap stuur dat dit oukei is. “Sê jou tannie se nuwe haarstyl lyk mooi, anders gaan sy sleg voel,” sal jy dalk sê.

Net soos volwassenes sal kinders jok wanneer hulle weet hulle het iets verkeerds gedoen of ’n belofte verbreek. Hulle sal eerder jok as om die gevolge van hul dade te dra. Soms jok hulle om konflik te probeer oplos.

Gedurende die tienerjare (en soms die voortienerjare) is die twee hoofredes dat kinders jok om hulle van hul ouers te skei en om met hul portuurgroep te identifiseer. Jou kind weet byvoorbeeld jy hou nie van rook nie, maar hul maats rook. As gevolg van groepsdruk besluit jou kind om met hul maats te rook, maar jok dan by die huis daaroor.

Hoe reageer jy?

Dit is dalk moeilik om kalm te bly wanneer jy ontdek jou kind het vir jou gejok, maar dink aan van die leuens wat jy al vertel het (ja, ons almal jok soms) voor jy reageer en onthou dié wenke:

  • Bly kalm en noem die saak op sy naam – moenie ’n bekentenis probeer dwing nie.
  • Leer jou kind dat jok nie werk nie: Soos die storie van die seuntjie wat wolf geroep het, gaan mense hulle nie glo wanneer hulle eindelik die waarheid vertel nie.
  • Verstaan hoekom jou kind sukkel om die waarheid te vertel: Volg hulle dalk jou voorbeeld? Of ervaar hulle druk van hul vriende? Daar is dalk onderliggende oorsake wat jy met jou kind moet bespreek.
  • Verduidelik die gevolge: Maak seker jou kind verstaan hy sal in minder moeilikheid wees wanneer hy die waarheid praat as wanneer hy jok.
  • Wees ’n goeie voorbeeld: Wees ’n eerlike ouer. Kinders leer baie van hul ouers se gedrag.
  • Prys eerlikheid: Wys openlik dat jy jou kind se eerlikheid waardeer. “Dankie dat jy my vertel het dat jy my oorbel verloor het. Kom ons soek dit saam,” is ’n benadering wat jou kind sal aanmoedig om eerlik te wees en julle nader aan mekaar sal bring.

- Lindiwe Dlomo

Bronne: parenting.com, empoweringparents.com, supernanny.co.uk, life.familyeducation.com