Algemene riglyne vir wanneer jy ’n eenjarige voer

  • Dis belangrik om te onthou babas het ses klein maaltye per dag nodig – ontbyt, middagete en aandete, asook ’n peuselhappie in die oggend, middag en voor slapenstyd.
  • Jou kind kan nou ’n wye verskeidenheid gesinskosse eet. Gee hulle ’n gebalanseerde dieet wat brood, ontbytgraan, groente, peulgewasse, vrugte, suiwelprodukte, vleis en pluimvee insluit.
  • Eenjariges raak onafhanklik en wil hulself voer. Al kan dit ’n gemors afgee, is dit belangrik dat babas dié vaardigheid moet aanleer.
  • Dit is ’n wonderlike tyd vir leer en ontdek. Gee jou kind ’n verskeidenheid kosse. Party goed gaan so 10 tot 20 keer se proe kos voor hulle dit aanvaar – wees maar geduldig!
  • Gee eers vaste kosse voor vloeistowwe.
  • Water is die beste drankie vir kinders. Vermy vrugtesap, vrugtestroop en gaskoeldrank.
  • Beplan gereelde eet- en peuseltye en laat genoeg tyd vir jou kind om ’n maaltyd te eet.
  • Jy kan jou kind met ’n koppie pleks van ’n bottel melk gee.
  • Moenie suiker en sout by basiese kosse voeg nie.
  • Raadpleeg ’n dieetkundige, kindergesindheidsverpleegster of ander gekwalifiseerde kenner as jou keuses beperk is of jy spesiale dieetvereistes het.

Beplanning van maaltye

Dit wissel van kind tot kind hoeveel hulle nou eet; hul groei en aktiwiteitsvlakke beïnvloed dit ook. Hierdie porsiegrotte kan jy as ’n gids gebruik om elke dag jou een- of tweejarige voer:

1. Brood, ontbytgraan, pasta, rys, noedels:

  • Vier tot ses porsies daagliks
  • Een porsie = een sny brood OF ½ koppie ontbytgraan OF ½ koppie gekookte rys, pasta of noedels
  • Dit sluit in alle soorte volkoring-, volgraan- en witbrood, graan, rys, pasta en noedels, en sluit in plaatkoekies, kraakbeskuitjies, rosyntjiebrood, droë koekies en vrugterolletjies.

2. Groente

  • Drie tot vyf porsies daagliks
  • Een porsie = ¼ koppie of twee eetlepels gaar kos
  • Moedig jou baba aan om ’n wye verskeidenheid rou en gaar groente te proe. Dit is belangrik omdat dit jou baba gesonde eetgewoontes aanleer. Vars groente is die beste, maar bevrore en geblikte groente is ook ’n goeie alternatief. Vermy harde groente soos rou wortelstokkies; jou kind kan verstik.

3. Vrugte

  • Twee tot vier porsies daagliks
  • Een porsie = een klein stukkie vrug of ½ koppie gekapte vrugte
  • Vars vrugte is die beste, maar bevrore, geblikte en droëvrugte is ook goeie alternatiewe.

4. Melk, jogurt en kaas

  • Vier tot ses porsies daagliks
  • Een porsie = ½ koppie of 125 ml melk of vla OF ’n 100 g-bakkie jogurt OF ’n stukkie kaas van 20 g
  • Kinders het nie spesiale soorte jogurt of vla nodig nie. Jy kan nou volroommelk pleks van formulemelk gebruik. Jy kan steeds borsvoed so lank as wat jou baba wil hê.

5. Vleis, vis, pluimvee en eiers

  • Een porsie daagliks
  • Een porsie = ½ koppie of 30-50 g vleis OF ½ koppie nierbone of ander peulgewas OF 40-50 g vis OF een eier OF een eetlepel grondboonpasta
  • Rooivleis in ’n goeie bron van yster. Probeer dit gereeld insluit.

Bors- en formulemelk

Hou aan met borsvoed so lank as wat jou baba wil drink. Borsmelk bevat steeds belangrike hoeveelhede proteïen, energie en immuunfaktore.

Teen eenjarige ouderdom moet jy nie meer nie as 700 ml melk per dag gee. Dit sal jou baba meer laat eet. Te veel melk en te min kos kan anemie veroorsaak.

Tandbederf in klein kinders kan kort ná die verskyning van die eerste tande gebeur, gewoonlik tussen nege maande en twee jaar. Suikerryke drankies kan kwaai tandbederf veroorsaak. Dit is veral belangrik om nie suikerryke drankies in jou baba se bottel te gooi nie. Tandbederf in klein kinders kom minder voor onder kinders wat geborsvoed is.

Koeimelk op die spyskaart

Koeimelk word nou dalk ’n groot deel van jou kind se dieet noudat hulle ouer as ’n jaar is.

Melk is gewoonlik die keusedrankie op hierdie ouderdom omdat jou kind vet nodig het om hul groei aan te help en in hul energiebehoeftes te voorsien. Jou kind moet minstens tot op twee jaar melk drink.

Wanneer dit matig gedrink word, voorsien koeimelk baie van die voedingstowwe wat groeiende kleuters benodig. Voedingkundiges beveel aan dat eenjariges nie meer nie as 350 ml melk per dag drink. Party kleuters is mal oor melk en ouers moet steeds matigheid voor oë probeer hou. As jou kind te veel drink, kan dan ander kosse misloop wat belangrik is vir ’n gebalanseerde dieet.

Aan die ander uiterste is daar kleuters wat hul neus vir melk optrek, ten minste aan die begin. Dit verskil immers breed van bors- of formulemelk. Ouers kan aan die begin koeimelk met formule- of borsmelk meng om dit makliker te maak. Verminder dit dan geleidelik tot die kind net koeimelk dink.

’n Voorbeeldspyskaart vir jou kleintjie

Dié porsiegroottes word bedoel as ’n riglyn vir die korrekte porsiegroottes vir ’n eenjariges.

  • Ontbyt: 1-2 eetlepels braambosbessie-appelsap; ¼ koppie Cheerios of Toasted O’s; ½ koppie volroomjogurt.
  • Happie: 15 g cheddar; 4 volgraanbeskuitjies (geen transvette); ½ koppie volroommelk of borsmelk.
  • Middagete: 30 g fyn braaihoender; 1 eetlepel bruinrys en 1-2 eetlepels swart boontjies met fyn tamaties en ½ teelepel olyfolie; 1-2 eetlepels gaar geel soetrissie; ½ koppie volroommelk of borsmelk; ½ piesang.
  • Happie: ½ sny volgraanroosterbrood met 1 teelepel nie-gehidrogeneerde margarien; 100 g mango-stukkies; ½ koppie volroommelk.
  • Aandete: 1 eetlepel olywe, afgespoel & gekap; 42 g fyn hoenderdyvleis; 1-2 eetlepel fyn patat gemeng met 1 eetlepel suurroom, volroomjogurt of fyn avokado; 1-2 eetlepels gekapte groenboontjies; ½ koppie volroommelk of borsmelk.

- Janine Nel

Bronne: health24.com, pampers.com, healthychildren.org, parenting.com